Daar is iets vir almal by die Strand-leesfees, wat Saterdag 7 Desember gehou word. *** Foto slegs ter illustrasie.


“Wat lees jy?” is die tema van die eerste Strand-leesfees, wat Saterdag 7 Desember op die terrein van die Sunset-boekwinkel se perseel in Strand aangebied word.

“Die Strand-leesfees word deur die personeel van die boekwinkel gereël,” deel Udine Joubert, die boekwinkel­eienaar en patrónne van die leesfees.

“Dit is ’n leesfees sonder fieterjasies, bedoel vir skrywers, lesers, digters en oumas en oupas wat boeke as Kersgeskenke vir kinders en kleinkinders wil koop.”

Die Strand-leesfees bied boek­liefhebbers en kultuurdiere die vrye geleentheid om na boekbekendstellings deur skrywers te luister, en interaktief met skrywers en digters te kommunikeer. Skrywers en digters kry tafeltjies waar feesgangers met hulle kan gesels en uitvra na hul boeke, digbundels, verhoogstukke en dramas asook komende boeke.

“Die Strand-leesfees is ’n Kersmark, omdat boeke die beste Kersgeskenke vir kinders en kleinkinders is,” sê Joubert.

“Boeke met ’n spesiale boodskap van die skrywer voorin is blywend van aard – iets wat die ontvangers van die geskenke vir altyd saam met hulle kan dra.”

Toegang tot die Strand-leesfees is gratis, gellings koffie, eetgoed en verversings word aangebied, en daar is volop gratis parkering vir feesgangers tussen Heinecke- en Kerkstraat.

Vir verdere besonderhede, kontak die leesfeeskoördineerder, Henning van Aswegen, by 082 344 5641.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article