Strand Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het onlangs aangekondig dat hulle vroeg in September ’n spesiale jaarlikse algemene vergadering gaan hou om ’n nuwe voorsitter te kies.
Dit kom nadat Francina Lucas, oftewel “Antie Tannas”, die voormalige voorsitter van Strand GPF na etlike jare se diens aan die GPF opgeroep is om as voorsitter op die GPF se provinsiale raad te dien. Lucas is baie opgewonde vir die geleentheid om die gemeenskap op ’n hoër vlak te dien (“’Antie Tannas’ reg vir uitdaging,” DistriksPos & Helderberg Gazette, Woensdag 13 Julie 2022).
Brendyn Alloys, die sekretaris van Strand GPF het bevestig dat die spesiale vergadering op 14 September by die VGK-kerk in Derdestraat in Strand sal plaasvind. “Die vergadering begin 18:00. Die enigste doel en eintlik die hoofdoel van die vergadering is om ’n nuwe voorsitter te verkies,” sê Alloys.
Hy vertel dat indien ’n lid wat dien as onder-voorsitter of enige van die ander poste in die GPF verkies word om voorsitter te word, dan sal daardie persoon se pos ook oopgaan en dan sal daar iemand moet verkies word vir daardie posisie ook.
“Dis belangrik om te onthou dat slegs organisasies wat al langer as drie maande op ons databasis is die vergadering kan bywoon en kan deelneem aan die verkiesing van ’n nuwe voorsitter.”
Alloys verduidelik voorts dat die spesiale vergadering en verkiesing in oorstemming met die grondwet vir gemeenskapspolisiëringsforums en die GPF-raad gehou word om juis die geloofwaardigheid van die nuutverkose leierskap te verseker en om die hele proses se integriteit te beskerm.
- Vir meer inligting oor die vergadering en verkiesing bel Brendyn Alloys by 061 990 5129.



