Die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het verlede Woensdag (4 Desember) sy eerste maandelikse vergadering onder die nuwe uitvoerende komitee gehou.
“Hierdie nuwe era in die Strand-GPF sal met deursigtigheid gelei word,” het Niklaas Thysen, die voorsitter van die GPF, gesê.
Die vergadering is in Strand-buurtwag se gemeenskapsaal op die hoek van Kleinbos- en Masoniclaan in Strand gehou. Die vergadering het begin met die uitvoerende lede wat die afwesigheid van sekere rolspelers erken het. Die belangrikstes was die wyksraadslede, verkeersbeamptes en korrektiewe dienste.
“Ons sal moet werk aan die herstel van verhoudings met dié belanghebbendes, want dit is noodsaaklik dat almal hierdie vergaderings vir die verbetering van ons gemeenskap bywoon,” het Brendyn Alloys, die sekretaris van die GPF, gesê.
Die volgende item op die sakelys was misdaad in Strand. Kaptein Lionel Farmer, die bevelvoerder van die speurtak, het die teenwoordiges ingelig oor skuldigbevindings, waaronder ’n 30-jaar-vonnis vir huisroof. Hy het ook aangekondig dat die polisie DNS van gevangenes op parool gaan versamel.
’n Versoek van die gehoor was dat die vrylating van gevangenes vir die feestyd uitgestel word, maar die polisie kon nie die versoek toestaan nie, aangesien dit buite sy jurisdiksie val.
Nog ’n vraag was oor die vrylating van ’n bekende oortreder op parool en wat buurtwagte kan doen om seker te maak dat paroolvoorwaardes nagekom word. Dus is buurtwagte ingelig dit sal afhang van die parool-voorwaardes.
Pastoor Johannes Pick het gesê die program sal deur vrywilliges verbonde aan die eenheid vir spirituele misdaadvoorkoming uitgebrei word. Die groep, wat misdaadvoorkoming met ’n geestelike aanslag aanpak, sal die polisie help om misdadigers vas te vat, maar het gemaan kerke word nie deur die polisie bestuur nie.
Charles Matsepe is as die nuwe buurtwag-koördineerder bekendgestel en het die struktuurplanne vir die feestydpatrollies uitgelê.
Terugvoer is ook gegee oor ’n optrede waaroor in ’n vorige uitgawe van DistrikPos & Helderberg Gazette berig is (“Strand spaza shops inspected”, 20 November). Spaza-winkels is deur die GPF en die polisie geïnspekteer. Kol. Khunjulwa Khanyile, stasiebevelvoerder, het gesê toekomstige inspeksies sal deur die Stad Kaapstad gelei word. Die eerste optrede ingevolge die nuwe struktuur het Dinsdag 2 Desember plaasgevind, waar verstreke produkte gevind is en drie ongedokumenteerde mense in hegtenis geneem is. “Die idee om die winkels te inspekteer, was goed, maar dalk is die regte protokol nie gevolg nie.”
Die probleem met dwelmhuise en die beskikbaarheid van K-9-eenhede is ook bespreek. Kaptein Crispian Meyer het gesê K-9-eenhede is dikwels besig en nie altyd beskikbaar nie.
Ten slotte het Khanyile verskoning aangebied vir die stadige reaksietyd van die polisie weens probleme met landlyn-telefoonlyne.
“Ons sal werk om hierdie situasie te verbeter,” het Khanyile gesê.



