Francina Lucas, voorsitter van die Strand-GPF, het inwoners by die vergadering verwelkom. Foto: Rick Marais


’n Hervestiging van die vertrouensverhouding tussen die polisie en die gemeenskap, wat tot verbeterde kommunikasie en reaksietye kan lei, is van die kwessies wat by verlede Donderdag (20 Mei) se imbizo in Strand geopper is.

Die geleentheid is deur die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) by die Bethesda-kerk in Broadlandspark gehou om stygende misdaad in brandpunte te bespreek.

Volgens Niklaas Thysen, woordvoerder van die Strand-GPF, kon die gemeenskapsvergadering nie op ’n beter tyd plaasgevind het nie nadat twee mense op een dag in twee verskillende Strand-woonbuurte – Rusthof en Broadlandspark – vermoor is. Nie net was die GPF-lede en polisie by die vergadering betrokke nie, maar buurtwag-organiseerders van die omgewing het ook hul ondersteuning verleen.

Brendyn Alloys, die Strand-GPF se sekretaris, het gesê eerlike, oop gesprekke het op die vergadering oor misdaad in die omgewing plaasgevind.

“Die gemeenskap moet verantwoordelikheid neem vir die misdaad en hande vat met die buurtwagte, wetstoepassers, polisie en GPF om misdaad te beveg,” het Alloys gesê.

Volgens hom is die realiteit dat te veel bendelede, bendebase en dwelmsmokkelaars nog deur lede van die verskeie gemeenskappe in Sektor 1 beskerm word.

“Verskeie kere veg gemeenskapsleiers vir die regte van bendelede en bendebase terwyl jong manne in die bende-oorlog sterf. Die polisie word verhinder om sy mandaat uit te voer – om misdaad te verhoed, te beveg en ondersoek na die beweerde misdade in te stel. Ons as gemeenskap moet ophou om bendelede en bendebase te beskerm en te verdedig,” het hy bygevoeg.

Apostel Manfred Jumat, voorsitter van die Broadlandspark-buurtwag, het gesê die imbizo was baie belangrik omdat dit ’n interaksie was tussen die gemeenskap en die polisie se bestuur.

“Die hoofsaaklike doel was om die gemeenskap geleentheid te gee om hul ervarings, vrese en behoeftes met die rolspelers in die plaaslike veiligheid-kluster te deel. Dit is natuurlik goed bygewoon, hoewel ’n groot deel van die gemeenskap steeds verkies om hul opinie buite op ander platforms te opper eerder as om in gesprek te tree waar die geleentheid geskep is.”

Ná die verwelkomings deur Francina Lucas, voorsitter van Strand-GPF, is die vergadering met ’n gebed geopen, waarna al die bestuurslede van die polisie asook verskeie GPF- en buurtwaglede hulself aan die gemeenskap voorgestel het. ’n Vraag-en-antwoord-sessie het ná al die formaliteite gevolg.

Die gemeenskap se klagtes het gestrek van swak kommunikasie tussen die polisie en die gemeenskap tot klagtes oor stadige reaksie op klagtes en oproepe na die polisie. Ander klagtes het ingesluit die ligging van die Strand-polisiekantoor, en van die gemeenskapslede het gevra waarom ’n mobiele polisiekantoor nie in Rusthof ingerig kan word nie.

“Op die vergadering was dit duidelik die vertrouensverhouding tussen die polisie en die gemeenskap het baie skade gely en baie sal gedoen moet word om dit weer op ’n aanvaarbare vlak te kry. ’n Gevoel van ‘genoeg is genoeg’ het geheers. Die gemeenskap het dit duidelik gemaak dat hulle nou moeg is van net praat en daadwerklike aksie is nodig,” het Jumat gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article