Die toneel waar ‘n slagoffer van ‘n vermeende roof aan steekwonde beswyk het.

Yaseen Gaffar

‘n Man is vroeër vandag (Woensdag 18 Mei) in Strand doodgesteek.

Die oorledene is omstreeks 13:30 op die hoek van Eerste- en Visserstraat in die Rusthof-woonbuurt deur vermeende rowers geteiken. Ooggetuies beweer dat die oorledene deur drie verdagtes wat die toneel gevlug het, beroof en met ‘n voorwerp aangeval is. 

Volgens die Strand-polisie wat op die voorval reageer het, is die slagoffer met twee steekwonde aangetref. Hy is op die toneel deur nooddienste dood verklaar.

Met DistriksPos & Helderberg Gazette se aankoms, was die toneel reeds afgesper en owerhede insluitend die polisie, verkeer en ‘n privaat-sekuriteitsmaatskappy aanwesig. Mense het in skok by die toneel saamgedrom.

Hoewel die oorledene se identiteit bekend is, is die familie nog nie in kennis gestel van die noodlottige voorval nie. Enigiemand met inligting kan die Strand-polisiekantoor by 021 854 9100 bel. 

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article