Die stank wat glo op sekere dae uit ’n sakeonderneming in Boundaryweg se gebou kom, is besig om sake-eienaars rondom die onderneming teen die mure uit te dryf.
Willem Visagie van Heritage Cupboards en die werknemers by sy fabriek se lewe het glo in ’n lewende hel ontaard vandat First Ocean sy deure ’n paar maande gelede reg langs sy gebou geopen het.
“Die reuke wat sommige dae hier oorkom, maak ’n mens skoon naar. Die onderneming wat dit veroorsaak, is glo ’n ‘liquid fertilizing’-onderneming, wat visprodukte gebruik om die kunsmis te maak,” sê Visagie.
Hy is nie die enigste een wat kla nie. Johan Swart van JS Motors oorkant die pad vertel die reuk is so erg dat voertuie wat oornag binne-in sy onderneming staan se binnekante die volgende dag daarvan stink.
“Daardie reuk kom hier in, en as dit by die groot motorhuisdeur inkom, hang dit hier binne vir ure. Dis ondraaglik en ons moet ons klante so in dié stank ontvang,” kla Swart.
In ’n poging om die reuk onder beheer te kry, het Visagie ’n gesondheidsinspekteur van die Stad Kaapstad ontbied om ondersoek te kom instel.
“Ek weet nie wat die inspekteur kon kom ondersoek nie, want toe sy kom, was daar geen reuk nie.”
Tydens DistriksPos & Helderberg Gazette se besoek aan die ondernemings het ons ook geen reuk in die lug bespeur nie.
“Daar is nie elke dag ’n reuk nie. Sommige dae as hul deure (First Ocean) net ’n klein skrefie oop is, kom daardie reuk uit,” voeg Visagie by.
Deon Swanepoel, ’n eiendomsagent wat die geboue wat Visagie en First Ocean huur, namens die eienaar bestuur, het ’n brief aan Gabriël Kühn, die eienaar van First Ocean, gestuur.
“Ek wil jou graag herinner daaraan dat volgens ons ooreenkoms jy tot Maandag 5 Desember het om die reukprobleem op te los. Ek bring jou ook op hoogte met betrekking tot die klagtes van die omliggende bure. Ek en die eienaar word op ’n weeklikse basis geteister deur oproepe en dreigemente van naburige huurders aan wie ek ten beste probeer verduidelik dat ons deur ’n tydperk gaan om jou die geleentheid te gee om die reuke op so ’n wyse te beheer dat dit nie meer ’n oorlas vir hulle is nie. Ek moet voortdurend verduidelik dat hulle tot ná 5 Desember moet wag, en dan sal alle nodige toetse gedoen word om te bepaal of jy enige lugbesoedeling-verordeninge oortree of nie,” lui die brief. Swanepoel het verder uitgebrei en sê op die oomblik het hulle baie min feite om mee te werk.
“Ek verstaan die munisipaliteit gaan spesialiste stuur om metings te kom doen. Dit bly ’n nywerheidsgebied waar die drempel vir steurnis ’n rapsie hoër is as in ’n residensiële gebied,” sê Swanepoel.
Kuhn het kort hierna in ’n brief aan Swanepoel bevestig dat hy eers teen die Donderdag 15 Desember nuwe BioCare- tegnologie geïnstalleer sal hê om die reuke te bedwing.
Volgens die brief gaan die nuwe toerusting reuke van die produksieproses verminder en die laboratoriumagtige toegemaakte ruimte is so gemaak dat dit enige van die oorblywende reuke sal vasvang. In die brief dui Kuhn ook aan dat ’n ventilasie-stelsel-opgradering ook plaasgevind het en dat enige biologiese reuke wat ná BioCure se installering direk in die atmosfeer vrygestel sal word glad nie die bure sal steur nie.
“Ek is dankbaar vir jou geduld en begrip en alle hindernisse sal hopelik daarna (15 Desember) heeltemal weg wees,” sluit Kuhn die brief af.
Kuhn erken dat hy nie in ’n posisie is om te sê of die klagtes geldig is of nie. “Sodra die lugbesoedeling-departement klaar is met sy assesserings sal ek beter informasie hê en sal dan antwoorde kan gee,” sê Kuhn.
Patricia van der Ross, Kaapstad-metro se burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, sê die klagte sal deur die Stad se Luggehalte-bestuurseenheid ondersoek word om te bepaal of dit aan die vereistes van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur, wat oor luggehalte handel, voldoen.
“Die klaer sal op hoogte gehou word van die bevindings en aksies wat geneem is,” voeg Van der Ross by.



