Die Helderberg betreur die verlies van ‘n fenomenale onderwyser en legendariese sportman, Alvino Isaacs.

Die geliefde en welbekende Hoërskool Gordon-opvoeder is Sondag 20 April weens siekte in die hospitaal oorlede. Die 55-jarige het oomblikke nadat hy sy kleindogter, Zarah, met ‘n knipoog gegroet het, sy laaste asem uitgeblaas.

Nadat die nuus van Isaacs se tragiese heengaan op sosiale media gedeel is, stroom hartroerende boodskappe van medelye en herinneringe aan sy ryk nalatenskap steeds in. “Ek dink elkeen het sy eie spesiale, persoonlike herinnering aan my pa,” het sy dogter, Kaylin, gesê.

Isaacs is in 1970 gebore en is deur sy ma, Anetta Isaacs, as enkelouer in Firgrove grootgemaak. Hy het sy skoolloopbaan aan die Danie Ackermann Primêre Skool voortgesit, waar sy naam steeds in die skool se geskiedenis op hul provinsiale sporttoekennings pryk. Sy sekondêreskoolreis het sy verbintenis met die Hoërskool Gordon begin, wat tot die einde geduur het.

Puik atleet en sportman

Toe hy in die laat jare tagtig in die Hoërskool Gordon was, was Isaacs ‘n uitsonderlike hoogspringatleet. Hy het verskeie rekords opgestel en sy talente het daartoe gelei dat hy sy provinsiale en nasionale kleure in die sport verwerf.

Die legendariese Macassar-langafstandatleet Owen Machelm het in die lig van Isaacs se verlies sy herinneringe van hul ontmoeting op die atletiekbaan gedeel. Die twee was toe lede van die WP-span. “Hy was ‘n baie beskeie atleet, maar die toonbeeld van fokus met sy deelname in hoogspring,” het Machelm gesê.

Wanneer hy nie op die baan was nie, was Isaacs die grapjas wat talle met sy sê-goed vermaak het, het Machelm voorts gedeel. Hoewel Machelm as landloopatleet vir Macassar Sekondêre Skool uitgeblink het, en Isaacs die hoogspring-sensasie van die Hoërskool Gordon was, het hulle mekaar as mede-atlete gerespekteer. Hul band is verder versterk omdat hulle albei boorlinge van Firgrove is. “Hy’t ‘n groot sporterfenis gelaat en ek sal hom mis,” het hy gesê.

Volgens Machelm is Isaacs se lewe ‘n voorbeeld vir kinders met drome; hulle moet altyd hul doelwitte nastreef en nie toelaat dat omstandighede hul lewe bepaal nie.

Isaacs was ook ‘n rugbyfanatikus en het as kranige hoërskoolspeler vir Gordon uitgedraf, en later ook as lid van plaaslike rugbyklubs insluitend Helderberg en Raithby Universals.

Isaacs het aan die Universiteit van Wes-Kaapland sy onderwyskwalifikasie bekom. Nadat hy sy studies voltooi het, het hy by Rusthof Sekondêr, Eersterivier Sekondêr en Marvin Park Primêr klasgegee. Dit voordat hy as onderwyser by sy alma mater aangesluit het.

“Hy was nie net ‘n kollega nie, maar ‘n ware inspirasie en vriend,” het Lizette Visser, die hoof van die Hoërskool Gordon, gesê.

Sy het Isaacs beskryf as ‘n toegewyde en pligsgetroue onderwyser wie se hand verder as die klaskamer gestrek het, terwyl hy opregte medemenslikheid behou het en ‘n blywende indruk op almal in die skoolgemeenskap gelaat het.

“Sy leerders was sy alles. Hy het hulle altyd eerste geplaas – soms bo sy eie belange,” het Visser bygevoeg.

Diep geraak

Volgens mede-onderwyser Noel Hendricks het Isaacs se dood die skoolgemeenskap diep geraak en ‘n groot leemte gelaat, aangesien hulle nie net kollegas was nie, maar vir 21 jaar sedert 2004 ook vriende.

Hendricks sal Isaacs veral onthou vir sy betrokkenheid by verskeie sportsoorte, veral die skool se atletiek. Hy vertel dat die skool geen rugby gehad het toe hy daar begin het nie en dat hy en Isaacs saam die rugbykultuur en huidige spanstrukture daar gevestig het.

Binne hierdie rugby-omgewing het Isaacs die Macassar-vrouerugbyspeler Kimico Manuel ontmoet, wat ‘n atleet in sy atletiekspan was. “Hy het my gevra om rugby te probeer, maar ek het net gegiggel en gesê ‘Ja, Meneer’,” het Manuel gedeel.

Vir haar was Isaacs een van haar grootste ondersteuners in haar sportloopbaan en sy glo as hy haar nie gevra het om te speel nie, sou sy nooit die eerste vroulike Suid-Afrikaanse rugbyspeler geword het wat in Duitsland speel nie.

“Mnr. Isaacs was nie net ‘n afrigter nie – hy was soos ‘n pa vir my,” het sy gesê.

Isaacs se dogters voel dit was ‘n eer om hul pa, die “sagte reus”, met die gemeenskap te deel en is oorweldig deur die reaksie op sy heengaan. Vir hulle was hy egter bloot hul liefdevolle en betroubare pa en ‘n man wat van kos gehou het. Hy het homself ten volle deur opvoeding en sport uitgeleef.

Isaacs word oorleef deur sy dogters, Leigh en Kaylin, ‘n kleindogter Zarah, sy ouers, en twee susters en twee broers.

Die begrafnisdiens word Saterdag (3 Mei) by die Hoërskool Gordon gehou.

Isaacs se klaskamerdeur is met kosbare boodskappe geplak.
Voor: Zarah, Middel: Kaylin en Alvino Agter: Leigh
Alvino en Zarah
Noel Hendricks, Bernard Simons en Alvino Isaacs

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article