Kimico Manuel, ’n skitterende rugby-ster van Macassar, het tot nuwe hoogtes geskiet en sal as persoonlike afrigter dien terwyl sy beplan om haar professionele rugbyloopbaan op haar eie voorwaardes af te sluit.
Manuel het in 2021 as persoonlike afrigter begin nadat ’n Achilles-besering haar van die veld af gehou het. Sy verduidelik: “ ’n Rugbyloopbaan is kort – veral vir vroue – en ek kon nie my werk en oefenroetines versoen nie.”
Manuel is bekend daarvoor dat sy die eerste vroulike Suid-Afrikaanse rugbyspeler was wat in Duitsland gespeel het nadat sy vir die Sportklub Neuenheim uitgedraf het, maar sy moes terugkeer huis toe, toe die Covid-19-pandemie uitgebreek het. Ná haar terugkeer het sy vir Sanlam Boland Vroue gespeel, maar ’n tweede besering het haar loopbaan kortgeknip en sy kon slegs twee jaar vir die span speel.
Sy het haar passie vir fiksheid en mense reeds in 2018 ontdek toe sy as deel van haar studies as ’n fiksheidsinstrukteur begin werk het. Toe dit moeilik word om ’n balans tussen werk en rugby te vind, het sy haar aandag op haar kliënte gerig.
“Ek help hulle nie net om hul fiksheidsdoelwitte te bereik nie, maar ek is ook iemand met wie hulle hul probleme kan deel. Ek is nie meer net Kimico Manuel, die oud-Springbok nie – vir hulle is ek ’n vriend,” sê sy.
Hoewel sy nou gemaklik is in haar nuwe loopbaan, verlang sy steeds na die rugbyspel en klop haar hart veral vir die kontaksport ná oefensessies met professionele spanne. “Ek dink ek het nog ’n paar drieë in my oor. Ek wou altyd teen 30 aftree en ek het nog twee jaar oor om dit op my eie voorwaardes af te sluit.”
Intussen fokus sy daarop om ander mense se lewe te verbeter en nooi enigiemand om by haar aan te sluit.
“Ek is gewoond aan die spanomgewing, dus werk ek goed met mense van alle ouderdomme en persoonlikhede.”




