Skrumskakel vir All Saints Jessrell Visser loots ’n aanval in die span se kragmeting teen Hamediehs.Foto’s: Peter Bee


Die All Saints-rugbyklub het Saterdag (18 Mei) in ’n Superliga B- kragmeting teen Hamediehs op die Helderzicht-sportterrein te staan gekom.

Met All Saints wat pas vanuit ’n gelykopuitslag teen Belhar gekom het, en die Superliga B-nuwelinge Hamediehs wat hul eerste twee wedstryde verloor het, was albei spanne beslis daarop uit om hierdie wedstryd te wen.

Hamediehs het sterk begin en die tuisspan se verdedigingslyn is stuk-stuk deur die voorspelers gebreek, gelei deur hul agtsteman Ghalieb De Allende.

Vir All Saints het die uitdaging voortgeduur deurdat alle rugby in die eerste helfte in hul veldgebied gespeel is.

Die besoekers het met drie drieë, twee verdoel, en drie strafskoppe geslaag om rustyd 0-28 voor te loop. Hoewel Hamediehs net 10 punte in die tweede helfte aangeteken het, was die eerste helfte se aanslag genoeg om All Saints op hul neuse te laat kyk.

Saints se twee laat troosdrieë danksy hul senter Aiden January en die haker Ashley Warrie het sake op 12-38 beklink.

All Saints staan ??eerskomende naweek voor ’n uitdaging wanneer hulle Hands & Heart pak.

In die ander Superliga B-wedstryd van die naweek het die Strand-rugbyklub hul eerste oorwinning van die seisoen gesmaak toe hulle Kylemore op dié se tuisveld met 22-28 geklop het. Twee drieë deur Diego Visagie, een drie deur O’Brian Fredericks en een strafdrie het aan Strand die oorwinning gegee.

Lukas behaal driekuns

In die Superliga A-wedstryde het die Helderberg-rugbyklub Saterdag sy tweede agtereenvolgende sege behaal in hul wedstryd teen Durbell in Durbanville. Albei spanne het ses drieë gedruk het, vir ’n 38-48 eindtelling in die besoekers se guns.

Vir Berge was die opwindende heelagter Jeandre Lukas op sy stukke, met ’n driekuns aan drieë, tesame met ’n generaal-vertoning van sy losskakel Darren Hendricks, wat ook met ses doelskoppe geslaag het.

Voorlangs het Berge se agttal hul veel groter en swaarder teenstanders geneutraliseer. Die span se vaste vyf het met hul werkvermoë beïndruk en die lostrio in staat gestel om te baljaar. Die agtsteman Conway Pretorius het ’n uitstaanvertoning gelewer, met flanke Kurt Titus en Erhard Lambrecht kort op sy hakke en ook later Naym Jansen.

Pretorius het twee eerstehelftedrieë gedruk en die lynstaanwerk van Shane Kennedy en Jady Labuschagne uitgebuit.

Laat in die wedstryd het Berge se linkervleuel Hughwan Engelbrecht van sy 22-lyn deurgenael, om met ’n skitterdrie ’n lang drie-droogte te breek.

Kort voor die eindfluitjie het die plaasvervangerskrumskakel Michael Visser met ’n doelskop en ’n strafdoel sy deel tot die oorwinning bygedra.

Ook in die Superliga A het St. George’s teruggekeer na die wenpad met ’n oorwinning van 15-3 oor KPUT by Gustrouw. Kaptein Haroon Adams het ’n drie in die eerste helfte gedruk, wat deur Curtley Hendrickse verdoel is, waarna die Lulu Boys die eerste helfte met ’n voorsprong van 7-0 afgesluit het. In die tweede helfte was ’n drie deur Duwayne Raubenheimer en later ’n strafdoel deur Kyle Alexander genoeg vir ’n moraal-versterkende oorwinning.

Strand United troef Gardens

In Superliga C het Strand United hul eerste oorwinning van die seisoen gevier met ’n 21-14 oorwinning teen Gardens by die Abattoir. ’n Drie elk deur Tyron Jones en Waqeel Josephs, sowel as ’n doelskop en drie strafskoppe deur Ebrahim Pedro het die United-puntetelling opgemaak.

V Ander uitslae – Noordelike liga: Albions 35-22 Gordon’s Bay Pioneers.

Komende naweek se wedstrydbepalings
  • SLA: Helderberg t. SK Walmers (Charles Morkel), St. George’s t. NTK (weg). 
  • SLB: Strand t. Bellville (Gustrouw), All Saints t. Hands & Heart (weg). 
  • SLC: Macassar t. Scottsdene-Central (weg), Strand United t. Goodwood (weg). 
  • Noordelike liga:  Sir Lowrians t. Albions (weg), Raithby Universals t. Excelsior (weg).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article