Beeldmateriaal van ’n kringtelevisiekamera is onlangs aan DistriksPos & Helderberg Gazette gestuur, waarin gesien kan word hoe ’n werknemer van Cinnamon Square SPAR in Strand ’n ander werknemer met vrugte en ander produkte gooi.
In die video met die tydlyn bo-op, wat aandui dit is op 18 September vanjaar teen omstreeks 10:51 opgeneem, kan ’n mens sien hoe iemand (’n werknemer van Cinnamon Square SPAR) ingestap kom terwyl sy op haar selfoon praat. Sy vat dan enkele sekondes later na wat na ’n sak lemoene lyk en gooi dit op ’n werknemer wat agter haar staan. Daarna vat sy nog ’n sak lemoene en gooi dit weer na die ander SPAR-werknemer, maar in dié geval mis die lemoene die werknemer en val op die vloer.
Die eerste vrou gooi dan nog ’n sak na die ander werknemer, maar dié keer val dit op die vrugterak. Sy stap dan verder en gooi weer twee vrugte (wat na nartjies lyk) na die vrou. Al twee val ook op die vrugte-rak.
Die kamera draai vir ’n paar sekondes na die regterkant toe en volg die tweede werknemer wat rondloop en die vrugte een vir een optel.
Daarna stap die eerste werknemer (wat die goed gegooi het) oor na ’n yskas-gedeelte in die winkel en gooi weer iets na die ander werknemer, en dié keer tref dit die werknemer se hand voordat dit op die vloer val. Die tweede werknemer buk daarna af om dit op te tel en toe gooi die eerste werknemer (met die selfoon) nog iets, maar dit val ook op ’n nabye vrugte-rak.
Carrick Janse van Rensburg, die bedryfsdirekteur by die SPAR-groep se kleinhandelafdeling, het bevestig hulle is ingelig oor die voorval tussen twee werknemers van SPAR se Cinnamon Square-winkel.
Die SPAR-groep het nie een van die twee werknemers se identiteite onthul nie.
“Ons neem voorvalle soos hierdie baie ernstig op en het vinnig opgetree en die nodige stappe gevolg om die voorval te ondersoek en dit deur interne prosesse op te los,” sê Janse van Rensburg.
Sy sê die voorval stem nie ooreen met die SPAR-groep se waardes nie.
“As ’n groothandelaar en groep onafhanklike kleinhandelaars handhaaf ons ’n streng en onwrikbare beleid vir die billike en hoflike behandeling van alle personeel, en ons is teen enige vorm van teistering, afknouery of dreigende gedrag.”
Verder bevestig sy volgens haar kennis is geen klagtes by die polisie aangemeld nie.
“Die SPAR-groep gaan verseker dat soortgelyke voorvalle nie in die toekoms plaasvind nie.
“Die SPAR-groep gaan ons werknemers, lede en geaffilieerde personeel ná hierdie voorval opvoed oor die beginsels van ’n veilige en respekvolle werkplek vir almal.”



