’n Skermgreep van ’n video waar ’n werknemer van SPAR Cinnamon Square ’n ander een met ’n sak lemoene gooi.


’n Onlangse voorval waarin ’n werknemer van Cinnamon Square SPAR in Strand deur ’n ander werknemer met vrugte en ander produkte gegooi is, het die spesifieke SPAR-tak in die kollig geplaas nadat iemand wat daar werk en ’n klant albei hul ontevredenheid uitgespreek het.

Beeldmateriaal van ’n kringtelevisie­kamera is onlangs aan DistriksPos & Helderberg Gazette gestuur, waarin gesien kan word hoe ’n werknemer van Cinnamon Square SPAR in Strand ’n ander werknemer met vrugte en ander produkte bestook.

In die video met die tydlyn bo-aan, wat aandui dit is op 18 September om 10:51 opgeneem, kan ’n mens sien hoe iemand (’n werknemer van Cinnamon Square SPAR) ingestap kom terwyl sy op haar selfoon praat. Sy vat dan enkele sekondes later na wat na ’n sak lemoene lyk en gooi dit op ’n werknemer wat agter haar staan (“SPAR tree vinnig op ná gooiery,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 25 Oktober).

’n Werknemer wat anoniem wil bly en met DistriksPos & Helderberg Gazette gepraat het, het erken dat hy die werknemer is wat met die produkte gegooi is.

“Ek het op Maandag 18 September weer by die werk aangekom nadat ek af was vir die naweek. Op die spesifieke dag was ek besig met stocktaking en omdat ons daardie dag een minder hand op die vloer gehad het, het ek effens vasgebrand met die stock take,” brei die werknemer uit.

Hy noem dat op daardie spesifieke oggend twee bestuurders van SPAR Cinnamon Square hom genader en ingelig het dat daar expired items is wat van die rakke verwyder moes word en hy het hulle ingelig dat daaraan aandag sal skenk sodra hy klaar is met die voorraadopname.

“Ek is ’n werker en die vrou wat my gegooi het, is die eienaar van Cinnamon Square SPAR. Sy (die eienaar) het ingekom en sy was besig op haar foon. Sy het my met lemoene begin gooi en hoe meer ek wou verduidelik dat ek die produkte wat verval het gaan afhaal, hoe meer gooi sy my met produkte,” sê die werknemer.

  • Hy het bevestig dat hy met lemoene, ’n botterskorsie, suurlemoene en nartjies gegooi is.

Die werknemer is van Donderdag 21 September tot en met Woensdag 4 Oktober geskors nadat hy gevra het vir ’n opname van die beeldmateriaal waarin ’n mens kon sien hoe hy met die vrugte gegooi is. “Ek is glo geskors vir ‘property use’ nadat ek iemand gevra het om vir my die beeldmateriaal te gee. Die persoon wat dit vir my gegee het moes dit glo nie gedoen het nie.”

Die ontevrede werknemer wat tans weer terug is by die werk vertel in daardie stadium moes hy homself in toom hou, want dit was sy baas en al wat hy daarna kon doen was om ’n saak by die polisie oop te maak. Die werknemer vertel die voorval het ’n negatiewe impak op hom gehad.

“Ek wens dié soort openbare vernedering vir niemand toe nie,” verduidelik die werknemer.

Iemand wat ’n ruk lank in die Strand gewoon het voordat hy verhuis het en toe later weer terug verhuis het na die gebied het aan DistriksPos & Helderberg Gazette bevestig dat hy ontevrede is oor die manier hoe die eienaar van Cinnamon Square SPAR haar werknemers hanteer.

“Ek is deur baie mense genader wat my ingelig het van hoe sleg die eienaar haar werknemers hanteer. Ek was egter self geskok toe ek die winkel besoek en gesien het hoe die huidige eienaar verbaal een van haar werknemers afkraak. Om die onprofessionele gedrag van die eienaar teenoor die werknemer te aanskou, het my geskok,” sê die inwoner.

Carrick Janse van Rensburg, bedryfsdirekteur by die SPAR-groep se kleinhandelafdeling, het bevestig dat die voorval tussen ’n werknemer en ’n eienaar van die winkel plaasgevind het. “Ons is deur al die klagtes van 1 Januarie tot op datum en daar is geen klagtes van mishandeling van personeel nie.

“Ons is bewus dat die werknemer ’n saak geopen het, maar dis deur die hof uitgegooi,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article