Met ’n grys kappie-top, ’n paar blou jeans wat effens laag sit sodat ’n mens die bokant van ’n Jockey-onderbroek kan sien uitsteek en nuwerige tekkies aan is, die lyk van ’n man op Macassar-strand ontdek.
Die vonds is voorverlede Donderdag (19 Oktober) omstreeks 10:00 deur die Macassar-polisie gemaak.
Volgens adjudant-offisier Desire Adendolf, ’n woordvoerder van die Macassar-polisie, is die man wat in sy middel twintigs is se lyk redelik diep naby ’n bekende visvangplekgevind.
Die vonds kom amper twee maande nadat twee lyke onderskeidelik op Maandag 28 Augustus en Vrydag 1 September ’n paar kilometer van die strand af op ’n strand by Monwabisi uitgespoel het. Macassar se polisie het bevestig dat die twee mense moontlik op ’n ander plek vermoor is en toe in die see gestort is voordat die lyke by die strand opgeëindig het (“Nog 3 lyke in Macassar gevind,” DistriksPos &Helderberg Gazette, 6 September).
Adendolf het bevestig dat die nuutste vonds geen verband hou met die ander lyke nie.
“’n Geregtelike doodsondersoek is geopen en die lyk het geen sigbare beserings gehad nie. Die lyk is geïdentifiseer as ’n jongman van Khayelitsha,” verduidelik Adendolf.
Die Wyk 109-raadslid, Peter Helfrich, het sy misnoeë uitgespreek oor die polisie se provinsiale bestuur wat nadat verskeie lyke op 28 Mei in die gebied gevind is, beloof het om sigbaarheid daar op te skerp.
“Niks het van hierdie belofte gekom nie. Ons bel die polisie se bestuur aanhoudend om ondersteuning en hulpbronne aan Macassar se polisie te verleen. Die polisie se bestuur het Macassar en sy gemeenskap gefaal. Dis nie regverdig dat ons plaaslike polisiemag so ’n groot gebied soos Wyk 109 met so min hulpbronne moet dek nie. Ek vra weer die polisie se bestuur in die provinsie om sy beloftes na te kom,” sê Helfrich.


