Lede van Macassar Our Pride en personeel van die Macassar-gesondheidsentrum het op Mandeladag saamgespan om pasiënte wat in die koue toustaan, te help.

Credit: SYSTEM

Die gemeenskapsorganisasie Macassar Our Pride het verlede Maandagoggend vroeg by die plaaslike daghospitaal (Macassar-gesondheidsentrum) opgedaag waar hulle sop aan die pasiënte uitgedeel het.

Hierdie gebaar was om as organisasie hul deel te doen met betrekking tot Mandeladag, wat jaarliks op 18 Julie gedenk word deur positiewe dade binne plaaslike gemeenskappe te verrig.

“Mense staan daagliks vroeg op om in verskillende rye in te val ten einde hul afsprake by die sentrum na te kom.

“Dit is tans winter, en soggens is dit bitter koud. Baie bejaardes en moeders met babas moet soggens die koue trotseer. Ons het dit dus goedgedink om vanjaar ons 67 minute by die daghospitaal deur te bring,” het Clive Jefthas, die voorsitter van Macassar Our Pride, gesê.

D-Health Projects, ’n organisasie wat aangevoer word deur die plaaslike gesondheidsaktivis Debbie Myburgh, was deel van hierdie inisiatief.

“Ons besef terdeë dat ons nie die vermoë het om soortgelyke dade elke dag by die daghospitaal of ander plaaslike instansies te verrig nie, maar wil egter plaaslike sakeondernemings en ander organisasies aanmoedig om inisiatief in hierdie verband te neem. Die enorme bydrae wat Nelson Mandela in sy leeftyd gemaak het, kan gewis nie regverdig word deur een dag per jaar na die welstand van ons mense om te sien nie,” het Jefthas gesê.

Myburgh, die sameroeper van D-Health Projects, het bygevoeg dat haar organisasie se optrede inderdaad suksesvol was deurdat mense by die daghospitaal veel gouer gehelp word, en dat die lang rye buite die perseel uitgeskakel is.

“Mense kry gelukkig ook nou gereeld maaltye deur die loop van die dag,” het Myburgh gesê.

Macassar Our Pride vier binnekort sy vyfde bestaansjaar en is steeds op dreef om op ’n tasbare manier ’n bydrae in sy plaaslike gemeenskap te lewer. Sy werksaamhede fokus veral op die vooruitgang van jong mense en die welstand van die kwesbaarstes in die gemeenskap, onder wie bejaardes en kinders.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article