Die hardwerkende span van die Glen Graze Animal Rescue Sanctuary: Hazel Renoster, Suzanne Mostert, Pierre Steyl en Natalie Brits by die perd Griet, wat die span tydens die streng inperkings-tydperk gered het toe hy nog ’n vulletjie was.Foto: Rick Marais


Die Glen Graze Animal Rescue Sanctuary in Somerset-Wes is ’n diere-reddingsoord wat daarop gemik is om diere te help en mense te wys hoe om na hul diere om te sien.

Dié veilige hawe vir diere het onlangs goeie nuus ontvang toe Suzanne Mostert van Glen Graze haar inspekteurskap by die hof ontvang het, wat beteken sy kan nou as ’n volwaardige inspekteur optree.

As diere-inspekteur kan Mostert nou ingevolge die wet ontbied word na waar diere mishandel word en die onus rus nou op haar om diere se reddingspogings te fasiliteer en om die diere terug te neem na hul wetlike eienaars of om hulle weer veilig in die natuur vry te laat.

“Ek het opgelet ’n leemte bestaan in ons streek. Ek werk in ’n gemeenskap waar ek kan sien hoe onwettige teling plaasvind. Ons is op soek na ’n holistiese oplossing vir die diere-verwante probleme in ons omgewing. Ons wil mense educate om na hul diere om te sien; om beter na hul diere te kyk. Maar ons streef ook daarna om te help dat al die diere-organisasies hande neem en saamwerk om die Helderberg ’n beter plek te maak as dit by animal rescue-werk kom,” het Mostert gesê.

Mostert, wat nie net op papier ’n inspekteur is nie, maar volgens ’n landdros as ’n inspekteur goedgekeur is, se groot droom is om te sien hoe al die organisasies as een begin saamwerk.

“Ek dink ons moet ’n kaart opstel dat ons na byvoorbeeld ‘Welsyn X’ kan uitreik en hulle inlig dat ’n dier naby hulle in nood verkeer en hulp nodig het. Dan kan ons almal saamwerk en al die gebiede in die Helderberg kan só gedek word. Ons wil sien hoe almal in die Helderberg as een begin saamwerk. Dit gaan oor die dier en die dier se gesondheid en welstand.”

Sy het gesê Glen Graze is deel van die gemeenskap en, net soos ’n skool of hospitaal, het die reddingsgemeenskap ’n lewenslange verbintenis met die gemeenskap om diere te red en na hulle om te sien.

Sy het verduidelik dat onder die Stad Kaapstad se nuwe dierewette is die verordening wat stipuleer as jy ’n kat of hond het wat ouer as ses maande is, hulle ingevolge die wet gesteriliseer moet wees.

Die eienaar kan alleenlik met ’n dier teel mits hy of sy ’n permit van die Stad ontvang het, wat hulle volgens die wet beskerm om met hul diere te teel. “As jy iemand sien wat 17 honde op sy erf aanhou, gaan meld dit aan. Noudat die wet aan ons kant is, wil ons sien diere word gesteriliseer. Ons wil ook mense aanmoedig om diere-verwante klagtes by ons of hul naaste diere-reddingsorganisasie aan te meld.”

Sy glo diere-eienaars moet besef dat daardie diere aan hulle behoort en dat hulle die diere soos hul kinders moet behandel.

“As jy ’n dier het, dan moet jy weet wat daardie dier nodig het om gesond te bly. Daardie dier het kos nodig. Daardie dier het ’n skuiling nodig. As daardie dier (nes jou kind) siek word, moet jy geld beskikbaar hê om die dier na ’n veearts te neem.”

Sy het bygevoeg dat die Glen Graze Animal Rescue Sanctuary tans besig is met ’n perd-sterilisasie-veldtog, maar sy noem dat dit baie duur is om perde te laat steriliseer – dit kos maklik meer as R3 000 per perd.

“Ons gaan ’n veldtog in Zandvliet begin waar ons tien hingste gaan steriliseer, want as die merries op hitte is, breek die hingsperde uit hul stalle om by die merries uit te kom, en baie beseer hulself. Die perde het al mense se huise uitmekaar gehardloop en in voertuie vasgehardloop. Dis ’n baie belangrike veldtog vir ons.”

Mostert se groot droom is om te sien hoe die hele Helderberg (al die groter en kleiner organisasies) hul kragte saamspan om beter na al die diere in die Helderberg om te sien en dat ’n dier nêrens in nood is nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article