“Dit het alles begin met ses kleuters in my sitkamer. Twintig jaar gelede, terwyl ek ’n Montessori -student was, het ek ’n informele speelgroepie tuis begin. Die Montessori-filosofie het my aangegryp en twee jaar later, nadat ek my Montessori-diploma van die destydse London Montessori Centre (LMC) ontvang het, het ek Somerset Montessori Kleuterskool vir kinders van drie- tot sesjarige ouderdom oopgemaak. Die res is geskiedenis.”
So vertel Mariana van Niekerk, eienaar en skoolhoof van die klein kleuterskool in Firmountweg wat vanjaar sy 20ste bestaansjaar vier.
Volgende jaar skuif die skooltjie na ’n nuwe standplaas op die Lourensford-landgoed wanneer dit deel van Newberry House Montessori word.
“Ons eerste generasie Montessori-kinders is nou grootmense en soms, wanneer ek van hulle in die dorp raakloop of van hul prestasies te hore kom, kan ek nie glo dat die jong vroue en manne met baarde, as haasbekkleuters Somerset Montessori se stoeltjies vol gesit het nie – van hulle is gegradueerdes en van hulle bedryf al hul eie ondernemings. Wie weet, dalk sal ek nog die dag beleef dat ek van hul kinders in my klas sal hê. Ek hoop so,” sê Van Niekerk.
Somerset Montessori is ’n volwaardige tweetalige skool.
Daar is ’n Afrikaanse en Engelse groep, elk met sy eie direktrise (so heet ’n Montessori-juffrou) en haar assistent.
Die kinders deel een klaskamer en ontvang individuele onderrig in hul moedertaal of soms in klein groepies van tot vyf.
“Die kinders word daagliks aan ’n tweede taal blootgestel, maar nooit ten koste van hul moedertaal nie. Somerset Montessori is een van die min Montessori-skole in die land waar Afrikaanse kinders in hul moedertaal die skool kan ervaar.”
Van Niekerk beklemtoon dat die besonderse kleuteronderrig onveranderd bly wanneer dit deel van Newberry House word.
Justin Harvey, hoof van Newberry House Montessori, sê: “Ek verwelkom Somerset Montessori met ope arms, want dit gaan ’n nuwe dimensie aan Newberry gee.”
Hy sê met sulke ervare direktrises en assistente sal hulle beslis die Montessori-filosofie verdiep.
“Boonop bring Somerset Montessori ’n groter teenwoordigheid van Afrikaans op ons kampus en dit sal ons kliëntebasis onder Afrikaanssprekendes vergroot,” sê Harvey.
Hy verduidelik dat Newberry vir kleuters van 18 maande tot kinders van 18 jaar Montessori aanbied, en dat van Somerset Montessori se huidige leerders in die nabye toekoms by hul programme vir die middel- en hoërskoolleerders ingeskakel gaan word.
Newberry is een van twee skole wat Montessori se adolessensie-program in die Kaap aanbied.
Buiten die keuse om met die Montessori-filosofie voort te gaan ná die kleuterperiode, bied Newberry ook gehalte nasorg.
Newberry het onlangs besluit om ook tydens nasorg Montessori toe te pas.
Dit beteken “Montessori heeldag” is nou beskikbaar aan ouers wat daarin sou belangstel.


