Die jaarlikse Dis-Chem-interskole atletiekbyeenkoms tussen die Hoërskool Parel Vallei (PV), Strand (HS) en Hottentots-Holland (HHH) is verlede Vrydag (2 Februarie) by PV gehou en oudergewoonte was dit ’n dag om te onthou.
Die byeenkoms het op ’n hoogtepunt begin met die dansgroepe, dirigente en pawiljoenspanne van die drie skole se optogte. Hierna het die atlete weggespring om vir medaljes in die sowat 129 items op die dag se program mee te ding.
Die aansteeklike gees van die leerders deur die dag het die kenmerkend opwindende atmosfeer geskep wat net skole-atletiek kan vermag. Die verdedigende kampioen, PV, is as die kampioen van 2024 aangewys met Strand wat in die tweede plek in sy nek geblaas het.
Die skare was uit hul nate toe die gesogte Megan Robertson-geestrofee aan Strand toegeken is vir hul Formule 1-tema en PV was tweede op die podium vir hul Avatar-tema.
Die dag het agt rekords op die atletiekbaan en -veld opgelewer. Camerone Hodge van PV het die rekord vir die 3 000 m vir seuns o.15 met ’n minuut en 30 sekondes verbeter. Junaid Demas van HHH het die 300 m hekkiesrekord vir seuns o.14 verbeter. PV se o.14-skyfwerpatleet, Emma du Toit, het die vorige spiesgooi rekord van 28.30 m verbeter en 28.38 gegooi.
Selmarie Erasmus van PV het die 3 000 m-rekord vir meisies o.14 verbeter en sy het ook die Deon Burger-trofee vir die beste atleet in vier items volgens die ASA-tabel ontvang – sy het eerste plekke behaal in die 3 000 m, 1 500 m, 400 m en 800 m in haar ouderdomsgroep.
Strand se Annalene Burger het die o.15-meisieshoogspringrekord verbeter. Mila Ueckermann het twee rekords laat spat en die meisies o.17-verspring- en skyfwerprekords verbeter en die Faasen-trofee, wat aan die beste atleet van die dag, volgens die ASA-tabel, oorhandig word, ontvang.
Die Walter Laurie Ko-Ed-skild vir die hoogste gesamentlike punte het nie ver gereis nie en is weer aan PV toegeken.
Die massa-aflos was weer eens ’n hoogtepunt en hoewel dit op ’n kol naelskraap was, het die gasheerskool die wentree gegee.
Die seuns- en meisiespanne van PV het op tuisgrond onderskeidelik die Peter van der Merwe-skild en die Eb Roelofse-skild gewen.
Dit was ’n dag gevul met geesdrif wat nie deur die somerson gedemp kon word nie, gepaard met topatlete en die teenwoordigheid van die getroue borg, Dis-Chem Somerset Mall.
Welgedaan aan elke personeellid, beampte, afrigter, ouer en natuurlik elke leerder, vir nog ’n dag vir die Helderberg-gemeenskap se boeke.



