Die wrak van die blou Volkswagen Citi Golf waarin Anka van Zyl (20) gery het.


Die ma van ’n 20-jarige vrou is op soek na ’n motoris wat verlede Sondag (1 Oktober) omstreeks middernag teen haar dogter se motor vasgery en ná die botsing die hasepad gekies het.

Valeska van Zyl, Anka van Zyl se ma, het om 00:15 die angswekkende oproep ontvang dat haar dogter, wat ná werk op pad huis toe was, in ’n botsing op die hoek van Hoofweg en Broadway-boulevard in Strand betrokke was.

Volgens Anka het die bestuurder wat glo die botsing veroorsaak het, weggejaag en haar net daar gelos.

Van Zyl het kort ná die botsing deur middel van ’n inskrywing op sosiale media mense vir hul insae genader en gevra vir enige inligting wat kan help om die bestuurder van ’n wit Mercedes-Benz, wat glo in Anka se blou Volkswagen Citi Golf vasgery het, op te spoor.

“Die voertuig het heel moontlik skade aan die linkerkantste agterkant asook die omgewing van die bagasiebak opgedoen.”

AO Nico Beukes, ’n woordvoerder van die Strand-polisie, het bevestig dat ’n ongeluk-verslag geopen is.

“Geen klagte is egter aangemeld nie. Die bestuurder van die onbekende voertuig het na bewering weggejaag. Dit was dus ’n hit-and-run-geval. Die enigste insittende in die Volkswagen Citi Golf is lig beseer,” het Beukes gesê.

Van Zyl het bevestig haar dogter het ’n sweepslag-besering opgedoen, en haar voertuig is heeltemal afgeskryf.

Sy maan enige paneelkloppers of iemand wat die voertuig gewaar het (of moontlike herstelwerk aan die voertuig gedoen het) of weet wie die eienaar is om die Strand-polisie by 021 854 9100 te skakel en die inligting met hulle te deel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article