Die Macassar-polisie doen ’n beroep op die groter Helderberg-gemeenskap vir inligting wat kan help om ’n pensioentrekker, wat sedert verlede maand (Januarie) vermis word, op te spoor.

Jannie Solomons (62) is Dinsdag 17 Januarie na bewering laas gesien toe hy sy tuiste in Macassar dié oggend omstreeks 09:30 verlaat het. Solomons, wat in die vroeë stadium van Alzheimersiekte is, is steeds soek ten spyte van alle leidrade wat deur die polisie opgevolg is en verskeie gebiede wat gefynkam is.

Volgens ’n kennisgewing wat deur die Wes-Kaapse eenheid vir vermiste mense op sosiale media gesirkuleer is, het Solomons kort sout-en-peper-hare, bruin oë en steekmerke op sy linkerarm. Hy is ongeveer 1,2 m lank en weeg sowat 45 kilogram. Met sy verdwyning het hy ’n rooi en swart T-hemp, swart broek en swart-en-wit tekkies aangehad en ’n donkerkleurige pet met wit letters op sy kop gehad.

Volgens ’n woordvoerder van die Macassar-polisie het beamptes al ’n verskeidenheid stories oor waar Solomons laas gewaar is en hom moontlik kan bevind, opgevolg. Owerhede het al besoek afgelê by sy familie in Chris Hani-park, sy werkplek in Eersterivier en werkgewer in Kuilsrivier, waar hy glo op die dag van sy vermeende verdwyning besoek afgelê het, maar geen teken van hom is gevind nie. Die polisie se uitgebreide soektog het hulle selfs tot by ’n brug op die R102 gelei waar Solomons glo in die bos gaan hout kap het, maar niks gekry nie. Die polisie het selfs die Tygerberg-lykshuis gebel en besoek afgelê by die Eersterivier-hospitaal waar ’n behulpsame personeellid bekend as sr. A.F. Booysen haar werk opsygesit het om die hospitaal te deursoek en navraag by pasiënte te doen. Die polisie se soektog het weer eens niks opgelewer nie en doodgeloop.

“Enigiemand met inligting wat kan help om Solomons te vind, word aangemoedig om na vore te kom en die polisiekantoor by 021 857 7100 te skakel,” pleit die polisiewoordvoerder, wat sy dankbaarheid aan die ywerige Booysen uitgespreek het.

Die beroep kom in die lig van die lyk van ’n vermiste man van Somerset-Wes, wat Vrydag (2 Februarie) in ’n beboste gebied langs Dummerstraat aangetref is (“Body found confirmed to be missing Somerset West man’s,” News24 en Netwerk24, 2 Februarie).

Die Somerset-Wes-polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen nadat die lyk as dié van die 58-jarige Hendrik Steyn, wat sedert Sondag (28 Januarie) vermis was, geïdentifiseer is nadat dit in ’n gevorderde ontbinde toestand in die Parel Vallei-gemeenskap ontdek is.

Polisiebeamptes en nooddienspersoneel op die tonee

Polisiebeamptes en nooddienspersoneel op die toneel waar die lyk van Hendrik Steyn Vrydagoggend (2 Februarie) langs die boonste deel van Dummerstraat in Somerset-Wes ontdek is.

Volgens sers. Suzan Jantjies, ’n polisiewoordvoerder, is beamptes omstreeks 10:00 na die toneel ontbied. DistriksPos & Helderberg Gazette was op die toneel, waar die lyk glo deur ’n jong paartjie ontdek is wat die owerhede in kennis gestel het.

’n Vermiste-persoon-kennisgewing, waarin die publiek se hulp gevra is om Steyn op te spoor, is teen Maandag 29 Januarie wyd deur die Pink Ladies-organisasie op verskeie sosialemediaplatforms versprei. Afgesien van noodsaaklike besonderhede, soos sy liggaamsbou, gewig, lengte, haar- en oogkleur en gelaatstrekke, het die pamflet ook onthul dat Steyn as uiters kwesbaar beskou is en Sondag omstreeks 12:00 in die Montclair-woongebied gesien is.

Die vermiste Hendrik Steyn se lyk is Vrydag (2 Feb

Die vermiste Hendrik Steyn se lyk is Vrydag (2 Februarie) in Somerset-Wes ontdek.

Die jongste ontdekking is een van twee wat skokgolwe deur die gemeenskap van Somerset-Wes gestuur het. Steyn se ontdekking is voorafgegaan deur nog ’n gruvonds die vorige dag (Donderdag 1 Februarie) in die vroeë oggendure. Jantjies het by navraag bevestig die publiek het polisiebeamptes verlede Donderdag om 03:15 ontbied en hulle in kennis gestel van ’n skietvoorval in die parkeerterrein oorkant die Somerset-Wes-polisiekantoor. Die liggaam van die 58-jarige man is daar aangetref. Hy het aan ’n skietwond in die kop beswyk en is op die toneel dood.

Gert Minnie, die finansiële adviseur wat in Botrivier werk, is Maandag (5 Februarie), presies 11 dae ná sy verdwyning, ongedeerd gevind. Minnie het Donderdag 25 Januarie verdwyn nadat hy glo nie vir ’n afspraak opgedaag het nie. Sy voertuig, ’n Hyundai ix35, is verlate in ’n parkeerterrein in Clarencerylaan naby die Pitstop-restaurant gevind (“Soektog na Minnie duur voort,” 31 Januarie).

 Die Grabouw-inwoner Gert Minnie wat ook vermis wa

Die Grabouw-inwoner Gert Minnie wat ook vermis was, is op 5 Februarie ongedeerd gevind en herenig met sy familie.

Lt.kol. Pieter de Kock, ’n ondersoekbeampte van die Grabouw-polisie en wat aan die saak werk, het Dinsdagoggend (6 Februarie) bevestig Minnie het die vorige dag (Maandag) met sy familie kontak gemaak en hulle gevra om hom in Worcester op te laai. “Ons weet nog nie waar hy was nie. Ons vra dat die familie hul privaatheid in dié tyd gegun word,” sê De Kock.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article