“Ons is baie ontsteld en ons hoop hy word gevind.”
Dít is die woorde van ’n familielid van Gert Minnie, ’n man van Grabouw, wat sedert verlede Donderdag (25 Januarie) vermis word.
Minnie se voertuig, ’n Hyundai ix35, is wel kort nadat hy as vermis aangemeld is verlate by ’n parkeerplek in Clarencerylaan naby die Pitstop-restaurant gevind.
Johan Minnie sê sy broer is ’n finansiële adviseur in Botrivier en het verlede Donderdagoggend nie vir ’n afspraak by die kantoor opgedaag nie. Teen 10:00 het die familie begin bekommerd raak en later ’n soektog geloods. “Teen 17:00 was die familie baie bekommerd. Ons het toe oral na Gert begin soek, en teen daardie aand is net sy voertuig gevind,” sê die broer.
Lt.kol. Pieter de Kock, ’n ondersoekbeampte van die Grabouw-polisie wat aan die saak werk, het bevestig Minnie se voertuig is gevind.
Die Pink Ladies-organisasie het ’n kennisgewing gedeel met noodsaaklike inligting oor Minnie, wie omstreeks 06:30 Donderdagoggend (25 Januarie) glo laas gesien is.
Lede van die polisie, Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) asook familie en vriende het kragte saamgesnoer en soek sedert Minnie se verdwyning na hom. Teen die koerant se druktyd Dinsdagoggend (30 Januarie) het die soektog steeds niks opgelewer nie. “Gert is regtig ’n familiemens. Hy is baie liefdevol en hy is baie gerespekteerd,” sê die Johan. Die familie het geen vreemde gedrag by hom opgelet nie. Hy was die naweek voor sy verdwyning ’n bietjie stil, maar verder het die familie niks vermoed nie.”
De Kock het bevestig dat die soektog steeds voortduur en opnuut ’n beroep gedoen op enigiemand met inligting wat tot ’n deurbraak in die saak kan lei, om na vore te kom.
Mense kan De Kock by 082 469 7950 bel.




