Een van die Helderberg-kom (en maklik Suid-Afrika) se bekendste beeldhouers en kunstenaars se bronsbeeldhouwerk, wat al die laaste paar jaar oral in die Verenigde State van Amerika (VSA) rondgetoer het en op verskeie plekke uitgestal is, het nou ’n permanente staanplek in Kennedy Plaza in die VSA gekry.
Lionel Smit, wat die Lionel Smit-ateljee in Paardevlei besit en wie se werk in Junie by ’n galery in Genk, België, uitgestal is (“Smit se kuns nou in België,” DistriksPos & Helderberg Gazette, Woensdag 29 Junie), was opgewonde toe hy die nuus kry dat sy standbeeld nou permanente staanplek in die VSA het.
Die beeld, wat op 28 November aan die inwoners van Kennedy Plaza onthul is, staan bekend as Morphous.
“Dit voel nog so onwerklik dat my werk deel gaan word van daardie landskap. Dis ’n ‘humbling experience’ om te weet dat my werk dalk ander generasies kan inspireer,” sê Smit.
Hy het die beeld in 2014 geskep – sowat ’n jaar nadat oudpresident Nelson Mandela oorlede is. Die beeld het twee koppe – een wat vorentoe kyk en een wat terugkyk. Volgens Smit het die beeld die storie van Suid-Afrika op daardie tydstip vertel – van ’n land wat reeds gesien het wat alles in die verlede gebeur het, maar nog in afwagting is vir alles wat die toekoms inhou.
Morphous vind nou rus in Providence in Kennedy Plaza nadat dit vroeër op drie ander plekke gestaan het. In 2017 is dit by Union Square in New York City uitgestal, in 2018 is dit in Miami uitgestal en in 2022 (voordat dit na sy huidige staanplek geskuif het) het dit in New Jersey gestaan.
Providence staan wêreldwyd bekend as die kreatiewe kapitaal van die VSA.
Volgens Smit is die installasie moontlik gemaak deur die American Recovery Protection Act in samewerking met The Avenue Concept, PVD Art Culture and Tourism asook Jorge O. Elorza. die burgemeester van Providence.
“Die standbeeld word opgedra aan die pragtig diverse gemeenskap van Providence, my tuiste. Die verlede en die toekoms ontmoet op hierdie oomblik. Gee om vir jou medemens, bevraagteken almal, droom groot en skep nou die nuwe,” is die woorde waarmee Elorza die standbeeld op 28 November verwelkom het.



