Lionel Smit werk aan een van sy skilderye vir sy solo-uitstalling by die KUBE galery in België.


’n Bekende kunstenaar en beeldhouer van Somerset-Wes se werk word eersdaags in ’n galery in Genk, België, uitgestal.

Lionel Smit, wat die Lionel Smit-ateljee in Paardevlei besit en wie se asemrowende kunswerke langs die promenade in Kusweg pronk (“First step for promenade art walk,” DistriksPos, Donderdag 8 April 2021), is baie opgewonde om sy werk oorsee uit te stal en beskryf die gevoel nog as “onwerklik”.

Smit spog met 11 skilderye en agt beelde wat deel van ’n solo-uitstalling getiteld Pendulum by die KUBE-galery in die noordwestelike Europese dorp gaan wees.

Pendulum raak die kontraste in ons wêreld aan – die ying en die yang . . . amper hoe ons wêreld verander het en hoe die pendulum ‘swing’,” sê die kunstenaar.

Hy vertel sy werk gaan van Vrydag 1 Julie tot Sondag 2 Oktober by die nuwe galery uitgestal word, maar vir eers gaan Smit in Jan Tuisbly se karretjie ry en aan ander opkomende projekte werk.

“Ek gaan gewoonlik na my uitstallings toe, maar Covid-19 het ’n invloed op my werk en werkwyses gehad, en dit het my baie meer tyd gegee om op tuisbodem te werk.”

Hy sê so tussen die werk deur is dit vir hom spesiaal om tyd saam sy gesin deur te bring.

“Dis moeilik om te sê waar my inspirasie vandaan kom. Dit vloei soms net so inmekaar. Dis ’n proses wat net natuurlik gebeur.”

Vir Smit is ’n solo-uitstalling niks nuuts nie, want talle van sy werke is al op hierdie manier uitgestal.

Van sy werk is al by die Nasionale Portret-galery in Londen uitgestal, waar hy in 2013 ’n “Viewer’s Choice Award” ontvang het.

Van die ander solo-uitstallings sluit in ’n uitstalling in Miami, Amerika, en een in Helsinki, Finland.

“Die uitstalling in België gaan baie spesiaal wees, want die KUBE-galery is ’n nuwe galery met soort van ’n museum set-up met groot, oop ruimtes wat dit baie visueel maak.”

Gaste sal by die KUBE-galery ook die kunswerke van Pablo Picasso, Louise Bourgeois, William Kentridge en Damien Hirst kan sien.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article