’n Groep ontevrede en ontstoke gemeenskapslede van Sir Lowry’s Pass het Vrydagoggend (19 Januarie) die strate ingevaar om hul misnoeë uit te spreek oor die feit dat inwoners van Riemvasmaak al vir vyf dae (in daardie stadium) geen water in hul krane gehad het nie.
In wat die polisie as ’n vreedsame optog beskou omdat niemand in hegtenis geneem is nie, het inwoners hul stemme dik gemaak oor die ontwrigting van watertoevoer.
Samuel Vanga, ’n inwoner van Sir Lowry’s Pass, het bevestig die water het op Maandag 15 Januarie uit die krane ophou vloei en dit voel vir hulle asof hulle verlate en vergete is deur die Stad Kaapstad.
“Ons moes iets doen dat die Stad kennis neem van ons, maar daar loop steeds geen water uit die krane uit nie. Die Stad het wel ’n paar keer lorries omgestuur wat water vir die mense gebring het, maar ons krane was vir ’n hele ruk droog,” het ’n gefrustreerde Vanga sê.
Hy het verder gesê die woonbuurt en die Riemvasmaak-informele nedersetting word agtergelaat wanneer dit by dienste van die Stad kom.
“Niemand hier word in ag geneem nie; die Stad worry nie oor ons nie,” het hy bygevoeg.
Wyk 84-raadslid Norman McFarlane sê die optog het ontstaan as gevolg van ’n gebarste pyp onder ’n verlate stormwater-lyn. “Die probleem het verlede Dinsdag ontstaan en kort nadat ek bewus geword het daarvan, het ek dit verder gevoer.”
Dit het die Stad Kaapstad se water- en sanitasiespanne ’n volle twee dae gevat om die gebarste pyp op te spoor.
“Dit water het in die stormwaterlyn afgeloop. Aangesien dit diep onder die grond was, moes beamptes letterlik die lengte van die pyplyn loop om die lekkasie op te spoor,” verduidelik McFarlane. “Intussen is watertenkwaens na Riemvasmaak gestuur om water te verskaf totdat die watertoevoer herstel is. Watertoevoer is Saterdag (20 Januarie) herstel nadat spanne die hele Vrydag en die nag deur gewerk het om die probleem op te los.”
Zahid Badroodien, die burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie, bevestig die Stad betreur enige ongerief wat veroorsaak is.



