Die slagoffers van die Kersdag-brand in Sir Lowry’s Pass het hul eise uitgebrei na tydelike erwe terwyl die verskeie regeringsvlakke oor verantwoordelikhede verskil.
Dit is nadat die brandslagoffers op Woensdag 18 Februarie vroeg die oggend in dié gemeenskap bande in protes aan die brand gesteek het om die verkeer te blokkeer, maar owerhede het die betoging later stopgesit.

Die 30 inwoners is steeds haweloos nadat die brand vyf strukture vernietig het. Die slagoffers het hul frustrasies uitgespreek en beweer die Stad Kaapstad het twee maande gelede boumateriaal aan hulle belowe. Nou eis die groep toestemming om tydelike strukture op een van die vele onbesette erwe in die gebied op te rig terwyl hulle vir die materiaal wag.
Petrolene “Sister Lee” Alberts, ‘n gemeenskapsleier in Sir Lowry’s Pass, voel dis ‘n geleentheid vir die Stad om die inwoners steeds te help. “Dis hoe hulle kan help sonder om in die nasionale departement se sake te krap,” verduidelik sy.
Evolino Isaacs van die National Coloured Congress het ‘n vergadering aangevra, wat op Dinsdag 24 Februarie deur die slagoffers en amptenare van die Stad se informele nedersettings-bestuur bygewoon is.

Tydens die samekoms het die slagoffers hul versoek vir erwe amptelik gerig.
Die Stad-amptenare het egter die versoek afgeskiet en verduidelik die departement het nie die mandaat om toestemming te verleen nie.
Hulle het blykbaar bygevoeg dat enige oprigting van strukture as onwettige besetting beskou sou word.
In plaas daarvan is die slagoffers ingelig hulle is net geregtig op sekere boumateriaal, onderhewig aan goedkeuring.
Volgens die Stad se burgemeesterskomiteelid van menslike nedersettings, Carl Pophaim, is die nasionale departement van menslike nedersettings verantwoordelik om boumateriaal aan brandslagoffers te verskaf.
Hy beweer die Stad het reeds op Maandag 29 Desember al die nodige inligting formeel by die nasionale departement ingedien.
“Die Stad doen ‘n beroep op die nasionale departement om spoedig te werk om die gesinne wat deur die brand geraak is, by te staan,” het Pophaim gesê.
Tsekiso Machike, ‘n woordvoerder vir die nasionale departement vir menslike nedersetting, het gesê hulle het nie genoeg inligting van die Stad ontvang nie, wat die ingryping van nasionale amptenare bemoeilik.
Hy het egter bygevoeg ‘n plaaslike span sal nog ‘n verifikasieproses onderneem om die proses sodoende te versnel.






You must be logged in to post a comment.