Shamiem Bailey sal binnekort ’n operasie moet ondergaan nadat hy in die voorval in die linker-bobeen geskiet is. Die skietery het omstreeks 06:00 in Libertystraat plaasgevind en slegs Bailey is gewond.
Adjudant-offisier Nico Beukes, ’n woordvoerder van die Strand-polisie, het die voorval bevestig en gesê polisielede is om 07:00 van die skietvoorval in kennis gestel. “Ons het nog niemand in hegtenis geneem nie en kon geen ooggetuies opspoor nie,” het Beukes gesê.
Bailey is op die toneel deur paramedici behandel en gestabiliseer voordat hy per ambulans na ’n hospitaal vervoer is.
Delouw het uitdruklik gesê sy weet nie wat tot die skietery gelei het of hoe alles afgespeel het nie, maar wel dat sy Bailey onmiddellik te hulp gesnel het.
Yumna Thomas, die slagoffer se suster, het gesê hy herstel in die hospitaal en moet ’n operasie ondergaan. Sy het nie verder op Bailey se besering uitgebrei nie, maar het wel gesê haar broer is nie ’n misdadiger nie. “ ’n Klomp stories doen die ronde en niemand weet wat werklik gebeur het nie. Ek kan wel bevestig dat my broer nie ’n bendelid of ’n vuurwapen-skieter is nie,” het sy gesê.
Die belowende rugbyspeler Brancolin Fritz (19) is Saterdag 18 Junie by ’n partytjie in Sewendestraat, Rusthof, doodgesteek (“‘Ek steier oor my seun se dood’,” 22 Junie). Een van Fritz se spanmaats van die St. George’s-rugbyklub is glo slegs twee dae ná die moord in Sercorpark in ’n skietvoorval geteiken toe hy te voet van rugbyoefening af op pad huis toe was. Die 22-jarige is nie in dié voorval gewond of beseer nie.
- Enigeen met inligting oor die jongste voorval kan die Strand-polisie by 021 845 9100 bel.




