’n Jong man van Macassar is in ’n kritieke toestand in die hospitaal opgeneem nadat hy die slagoffer van ’n skietvoorval in die gemeenskap was.
Die Macassar-polisie ondersoek ’n klagte van poging tot moord nadat die slagoffer, ’n 30-jarige man, verlede Sondag (22 Oktober) in die vroeë oggendure in New Macassar Village deur twee verdagtes geteiken is.
Volgens ’n polisiewoordvoerder het polisielede omstreeks 01:00 op die voorval in Walter Sisulu-weg reageer.
“Getuies beweer die slagoffer het in die straat gesit toe hy deur twee mans met ’n vuurwapen genader is. Een van die mans het glo gesê, ‘Hier is die n*!@ wat ons soek’ voordat op hom losgebrand is,” het die polisiewoordvoerder gesê.
“Dit blyk die verdagtes wou die slagoffer afmaai, maar die vuurwapen het ná die eerste skoot geweier. Die verdagtes het in verskillende rigtings van die toneel af gevlug. Die slagoffer, wat ’n skietwond aan die nek opgedoen het, is in ’n ernstige toestand hospitaal toe geneem.”
Niemand is nog in verband met die skietvoorval in hegtenis geneem nie. Mense met inligting wat moontlik tot ’n deurbraak in die saak of inhegtenisnemings kan lei, word versoek om AO Cobus Greeff by 083 234 6354 of die Macassar-polisiekantoor by 021 857 7100 te kontak.



