Die Strand-skut Willem Folscher is verlede week in die ouderdom van 89 oorlede. Foto:

Credit: Jamey Gordon

Willie Folscher, die bekende Bisley-skut van Strand, het vandeesweek die stryd teen Alzheimersiekte verloor toe hy verlede Donderdag (24 Februarie) in die ouderdom van 89 oorlede is.

Folscher het in 1953 begin skiet en in 1968 die eerste keer Springbokkleure verwerf – ’n eer wat hom sewe keer te beurt geval het.

Volgehoue harde werk en sy liefde vir die sport het hom as individuele skut asook in spankompetisies onderskei.

Hy het as lid van die Springbokspan teen Engeland, Nieu-Seeland en die Palmaspan, wat teen Australië, Zimbabwe en Malawi geskiet het, deelgeneem. Hoogtepunte van sy individuele loopbaan sluit in die Presidentstrofee wat hy in 1990 verwerf het toe hy tydens die jaarlikse nasionale Bisleykampioenskap, wat in Bloemfontein beslis is, as kampioen uit die stryd getree het.

Folscher, ’n gebore Namakwalander wat in Springbok gewoon het, was in die jare sestig die bevelvoerder van die plaaslike kommando.

Hy en sy gesin het in 1971 na Pretoria verhuis en later na die Vaaldriehoek, waar hy as meganiese ingenieur by Samancor gewerk het.

Folscher sal veral onthou word vir sy vermoë om onder uiterste weersomstandighede koelkop die een V-kol na die ander op afstande van 300 tot 1 000 m te tref. Sy persoonlike telkaart sluit talle voltalle in.

Sy bydrae tot die sport was omvangryk en hy het op verskeie klub-komitees, onder andere die Stellenbosch- en Transvaal-skietklub, gedien. Hy het menige jong skut onder sy vlerk geneem en ’n leidende rol in spankompetisies vervul.

Sy nalatenskap, wat verskeie bekers, medaljes asook sy Springbokbaadjie insluit, is aan die hoërskool in Springbok geskenk.

Folscher word oorleef deur sy vrou, drie dogters en vier kleinkinders.

Hy word Vrydag (4 Maart) om 13:00 vanuit die NG Moederkerk Strand, op die hoek van Fagan- en Birkenhead-straat, begrawe.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article