Sannya Smith daag lesers uit om die donkerte van die onbekende met sy nuwe digbundel Oorlewende te verken.
“Die grootste emosie in die mensdom is vrees en die vrees vir die onbeken- de,” verduidelik Smith.
Dié Strand-skrywer weef misterie en intrige deur 77 digte en kortverhale in die sagteband-bundel, wat sy eerste gepubliseerde werk sedert Blou Desember (2004) is. “My verbintenis met kreatiwiteit het my kort ná die afsterwe van my lewensmaat verlaat, en vir 20 jaar het ek niks gepubliseer nie,” deel Smith.

Maar sy passie vir skryf het hom nooit verlaat nie en Smith het omtrent vyf jaar gelede ontdek dat hy ‘n oorvloed materiaal gehad het. Dís wat sy kreatiewe gees wakker gemaak het en die inspirasie het weer soos ‘n rivier begin vloei, want hy glo skryf is sy lewensroeping.
“As jy goed is in wat jy doen, weier dit om jou alleen te laat. Is dit ‘n seën of is dit ‘n vloek?” vra die 50-jarige skrywer.
Dis met hierdie perspektief wat hy sy woorde op die blaaie afdruk. Met ‘n verlede van hartseer, sy verblyf by die see en sy liefde vir die Karoo, weef hy temas van liefde wat deurspek is van ‘n konstante ongemak wat in die agtergrond lê.
“Daar is vir my iets romanties van die donkerte en soms is dit goed om met jou sielskwellinge te knuffel.”
Met godsdienstige beeldspraak deurspek met die natuurwette ontbloot Smith sy siel in wat hy beskryf as “enigiets anders as ontspanningslees”.
“Hierdie is nie jou ma se digbundel met rymende verse nie; hierdie is stories wat jou sal ontroer.”
Die ontroering word nie net vir sy poësie behou nie – hy wil ook met sy uitgewer-benadering ‘n ontwrigting in die letterkundige bedryf veroorsaak.
Smith het die boek self gepubliseer om die tradisionele uitgewersmark te omseil en sy persoonlike netwerk ingespan om ‘n proefleser te kry.
Dit het hom volle beheer oor sy kreatiewe visie gegee en verseker dat die finale produk aan sy hoë standaarde voldoen.
Smith verkoop kopieë van Oorlewende direk uit die bagasiebak van sy motor.
Tot dusver het hy drie boekbekendstellings gehou – in sy tuisdorp, Caledon by die restaurant Gabbiano & Co, in sy geliefde Karoo by ‘n ongebruikte teater in die Matroosberg-natuurreservaat en by Sunset Books in Strand (“A field day for literature buffs”, DistrikPos & Helderberg Gazette, 23 Julie).

“Almal sê dis ‘n groot waagstuk om self te publiseer, maar met die mark wat so vol is, is dit die enigste manier om dit te doen,” sê hy. “Jy moet jouself beywer, want sonder daardie dryfkrag gaan jy dit nie maak nie.”
Belangstellendes wat meer oor Smith se werk wil uitvind of ‘n kopie van Oorlewende wil koop, kan hom by 082 321 6202 bel.





You must be logged in to post a comment.