Die Strand-polisie ondersoek twee klagtes van poging tot moord ná twee moontlike bendeverwante skietvoorvalle slegs ure uitmekaar Sondag (16 Januarie) in die vroeë oggendure.
Luidens ’n polisieverslag het die eerste voorval om 01:45 in Sercor-park plaasgevind toe skote op ’n 20-jarige in Serinastraat gevuur is. Die slagoffer het glo net by die huis gekom, ingegaan en die voordeur toegesluit toe hy stemme buite hoor en iemand aan die deur geklop het. Nadat die slagoffer nie reageer het of die deur oopgemaak het nie, is skote deur die voordeur op hom geskiet.
“Een koeël het die slagoffer getref. Hy is met ’n skietwond in die rug na die hospitaal vervoer,” lui die polisie se verslag.
Polisielede het op twee 9 mm-doppies, wat op die toneel gevind is, beslag gelê.
Die voorval is opgevolg deur nog ’n skietery wat 03:40 in Broadlandspark afgespeel het toe iemand op ’n 33-jarige in Fernstraat losgebrand het. Die slagoffer het glo saam met vriende in die pad gestap toe die skote gevuur is. Hulle het in verskeie rigtings probeer vlug, maar die slagoffer het ’n skietwond in die linker-onderbeen opgedoen.
Hy is vir noodbehandeling hospitaal toe geneem.
Enigiemand met inligting kan lt.kol. Franklin Plaatjies van die Strand-polisie by 082 469 3359 bel. – Jamey Gordon

