Die Macassar-polisie ondersoek ’n saak van moord en poging tot moord ná twee afsonderlike skietvoorvalle in Macassar.
Die vermeende skietaanvalle het in die bestek van ure uitmekaar gebeur, met die eerste voorval wat Saterdagnag (4 Februarie) tydens beurtkrag in die New Macassar Village-woonbuurt afgespeel het.
’n Veertigjarige man is met ernstige skietwonde in die hospitaal opgeneem nadat hy meters van sy tuiste in Musicalaan geskiet is. Die slagoffer het na bewering huis toe gestap toe hy glo deur ’n onbekende man met ’n vuurwapen geteiken is.
“Die voetganger het, volgens ’n getuie, glo die verdagte raakgeloop terwyl hy na sy tuiste onderweg was. Geen woorde is tussen hulle gewissel nie; die man het net skielik op die slagoffer losgebrand,” het ’n Macassar-polisiewoordvoerder gesê.
Polisiebeamptes wat omstreeks 23:00 op die voorval gereageer het, het ses patroondoppies op die toneel gevind en daarop beslag gelê. Uit minstens ses skote wat afgevuur is, het drie die slagoffer getref. Hy het skietwonde aan albei bene opgedoen.
Die poging tot moord is gevolg deur nog ’n skietvoorval wat omstreeks 02:00 in Kramat-pad plaasgevind en die lewe van ’n jong man van Faure geëis het. Die slagoffer, bekend as Jeffrey Booysen, het na bewering van Macassar na sy tuiste in die naburige dorp geloop toe skote vanuit ’n voertuig wat in die rigting van Faure beweeg het, op hom geskiet is.
Volgens die polisiewoordvoerder het die voorval ten aanskoue van twee jongmans, wat in die teenoorgestelde rigting na Macassar gestap het, afgespeel. Hulle het nadat twee skote op die slagoffer gevuur is, na gemeenskapslede in die omgewing gevlug en hulp ontbied.
“Polisiebeamptes wat ’n klagte by ’n nabygeleë vulstasie bygewoon het, het onmiddellik op die voorval gereageer. Met hul aankoms het die slagoffer, wat in die kop geskiet is, nog geleef. Hy is deur paramedici na die hospitaal vervoer, waar hy enkele ure later – Sondagoggend – gesterf het.”
Die polisie het beslag gelê op een patroondoppie, wat op die toneel gevind is. Niemand is nog in verband met die voorvalle aangekeer nie.
Volgens die polisiewoordvoerder is die motief vir die afsonderlike skietvoorvalle op die voetgangers onbekend, en die polisie doen ’n beroep op gemeenskapslede om na vore te kom met inligting wat in die ondersoek kan help.
- Enigiemand met inligting wat moontlik tot ’n deurbraak of inhegtenisneming kan lei, kan die Macassar-polisie by 021 857 7100 te skakel.



