“Waar is die polisie? Hoor hoe klap die skote!” sê ’n gemeenskapsleier op ’n stemnota op WhatsApp voordat hy afgesny word deur skote wat in die agtergrond in die gemeenskap gehoor kan word.
Dis Woensdagoggend (30 Augustus) in Petunia-rylaan brand bande nadat verskeie skote ’n paar uur tevore – teen omstreeks 07:50 – daar geklap het. Volgens inwoners het dit soos ’n mini-oorlog in die gemeenskap geklink.
’n Verdagte, wat nou in hegtenis is, het in wat as ’n bendeverwante skietvoorval bestempel is, aan ’n deur van ’n woning in Bromelia-pad geklop en toe verskeie skote op ’n slagoffer se tuiste afgevuur.
AO Nico Beukes, ’n woordvoerder van die Strand-polisie, het bevestig die slagoffer is ongedeerd ná die voorval.
“Die slagoffer was in sy bed aan die slaap toe twee skote deur ’n buitenste deur asook nog drie deur ’n venster in die rigting van die slagoffer geskiet is. Die verdagte het weggehardloop, maar die polisie het hom in Petuniastraat vasgetrek en in hegtenis geneem,” sê Beukes.
Hy het verder uitgebrei die verdagte, ’n lid van die JCY-bende, asook ’n 17-jarige, is ná die skietery op ’n aanklag van poging tot moord in hegtenis geneem.
Die Strand-polisie het bevestig die 30-jarige leier van die JCY-bende is Woensdagaand (30 Augustus) weens poging tot moord in hegtenis geneem nadat hy ook na bewering by die skietvoorval betrokke was.
Nog skietvoorvalle
Ná verlede Woensdag se skietvoorval is nog twee skietvoorvalle aangemeld, waarin ’n 27-jarige-man en ’n 41-jarige-vrou Donderdag (31 Augustus) in Broadlandspark geskiet is.
In die eerste skietgeval in Arend-straat, is ’n man in sy ribbes geskiet en na die Helderberg-hospitaal gehaas. In die tweede geval is die vroueslagoffer in die linkerkant van haar kop agter haar oor geskiet deur ’n verdagte wat aan haar huis se deur in Anthea-straat kom klop het.
AO Beukes het bevestig toe die slagoffer die deur oopmaak, is ’n skoot op haar afgevuur. “Die voorval het plaasgevind tydens beurtkrag en die slagoffer het nie gesien wie haar geskiet het nie,” voeg Beukes by.
Die vrou is ook na die Helderberg-hospitaal gehaas. Niemand is vir enige van dié twee gevalle in hegtenis geneem nie.
bande (en vullissakke) brand
Inwoners wat die afgelope paar weke onder bendeverwante-skietvoorvalle deurloop het ná die skietery gewys hulle is keelvol deur op verskeie plekke in Broadlandspark bande (asook sakke vol vullis) aan die brand te steek.
“Ons gemeenskap word aan bendegeweld in ’n hoër graad onderwerp. Ons beleef ’n duidelike toename in onwettige vuurwapens. Die gemeenskap word geteister en is baie getraumatiseerd,” sê ’n welbekende gemeenskapsleier in die omgewing, wat uit vrees vir sy lewe verkies het om nie sy naam te laat publiseer nie.
Brendyn Alloys, wat ook in die omgewing woon, vertel die polisie en ander belanghebbendes in die veiligheidsklusters faal om die gemeenskap te beveilig.
“Die waarheid is mense in die gemeenskap het geloof en vertroue in die vermoë van die polisie verloor om hulle te beskerm en om misdaad te bestry,” voeg Alloys by.
gpf maak stem dik
Die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), wat die bekommernisse van die gemeenskap aangehoor het, het Vrydag (1 September) ’n brief aan landdros Veronica da Silva by die Strand-landdroshof gerig waarin hulle hul misnoeë oor die skietery uitspreek.
Volgens Niklaas Thysen, ’n woordvoerder van die Strand-GPF, lui die brief die gemeenskap van Broadlandspark (asook ander gemeenskappe wat geraak word deur die tipe misdade) leef in vrees.
“Die sake wat so vinnig by die hof uitgegooi word en die feit dat die bendelede dan weer met hul bendeverwante aktiwiteite kan aangaan nadat hulle skotvry daarvan afgekom het, moet stop,” verduidelik Thysen.
“Ons wil die Strand-landdroshof nader om ons toe te laat om by die borgtog-verhore van verdagtes in te sit en om ook insae te kan gee. Ons wil saam met die landdroshof werk om seker te maak al die sake kry aandag.”
Hy sê verder die brief dui ook aan die borgtogvoorwaardes van hoëprofiel-bendelede moet herondersoek word.. Al die verdagtes het al op die aanklagte in die Strand-landdroshof verskyn.


