As ’n koeëlpunt in ’n muur en koeëlgate in die ruite by ’n gewilde kuierplek in die Strand kon praat, sou dit moontlik die storie kon vertel oor presies wat gebeur het toe ’n klant skote op die perseel afgevuur het.
Personeel van The 80’s Bar in Michaustraat in die Van Ryneveld-gebied moes verlede Vrydag (29 September) omstreeks 01:45 koes en skarrel om skuiling te soek toe ’n ontevrede klant ongeveer tien skote op die kuierplek afgevuur het.
Volgens Marzel Karg, die bestuurder by The 80’s Bar, het twee klante aan die einde van ’n aand se kuier (vroeg die oggend) voordat die kuierplek se deure sou sluit, kom vra of die personeel ’n plek het waar die 36-jarige verdagte sy foon kon herlaai.
“Ons het hom laat weet dat ons nie sy foon kon herlaai nie want ons sou amper sluit, en die enigste kragpunt wat beskikbaar was, is waar ons kaartmasjien ingeprop was,” het Karg vertel.
Die verdagte asook ’n 29-jarige man het toe begin moeilik raak en die personeel by die kuierplek beskuldig dat hulle rassisties is.
“Ons bouncers het die twee manne toe uit die kuierplek verwyder.”
Oomblikke daarna het alle hel losgebars en skote het links en regs geklap.
“Die skote het oor ons bouncers asook die skoonmakers se koppe gevlieg. Dit was vroeg die oggend en ná elke oggend (nadat ons sluit vir besigheid) kry ons ’n span in wat kom skoonmaak. Gelukkig is niemand beseer of raakgeskiet nie, maar een van die koeëls het een van die skoonmakers net-net gemis,” het Karg gesê.
Die polisie en lede van ’n veiligheidsmaatskappy sowel as van die plaaslike buurtwag is kort ná die voorval na die toneel ontbied en die verdagte met die vuurwapen het toe die hasepad gekies, te voet gevlug, en by ’n ander kuierplek verder af in die straat gaan wegkruip.
Die verdagte is kort hierna in hegtenis geneem nadat hy sy enkel gebreek het en nie mobiel was nie.
Adjudant-offisier Nico Beukes, ’n woordvoerder van die Strand-polisie, het die voorval bevestig, maar kon nie uitbrei oor waar die verdagte sy enkel gebreek het nie. Hy het egter vasgestel die man is ná die voorval hospitaal toe geneem vir die behandeling van sy beserings.
“ ’n Ooggetuie het ’n harde slag gehoor en toe besef dit is skote wat klap, en het weggekruip. Toe die ooggetuie later opstaan, het hy verskeie gate deur die plek waar hy werk, se vensters gesien. ’n Klagte van poging tot moord word teen albei die verdagtes ondersoek. Die 36-jarige verdagte is ook van die afvuur van ’n vuurwapen in ’n munisipale gebied aangekla,” het Beukes bevestig.
Al twee die verdagtes is in hegtenis geneem en het Maandag (2 Oktober) vir die eerste keer in die Strand-landdroshof verskyn.
- Karg het gesê The 80’s Bar is steeds oop vir klante en die koeëlgate is toegeplak totdat die versekeringsmaatskappy die ruite kan vervang.


