Na 25 jaar in die onderwyssektor, gaan Hoërskool Strand se hoof, Christiaan Klopper, einde van dié kwartaal uittree.
Na ’n 20 jaar skof by Paul Roos Gimnasium, is hy aangestel as die hoof van Hoërskool Strand en het vir die afgelope vier en ’n half jaar die skool se infrastruktuur en waardes ontwikkel.
“Ons het ’n nuwe hokkie astro-baan en het die terrein mooi gemaak. Maar ons het ook ’n goeie waardestelsel gekweek.”
“Die skool was ’n lekker uitdaging vir my en ek hoop die leerders sal die waardes uitbou,” sê hy.
Respek is ’n waarde wat Klopper baie waardeer en hy het die effek van dié waarde geleer.
“Ek het geleer dat as jy eerlik is en na iemand luister, dan sal hulle jou respekteer.”
In sy volgende fase wil hy soveel aanpak. Hy dink om ’n onderwyskonsultant te wees of ’n besigheid te begin, maar eintlik is hy onseker in watter rigting hy wil gaan.
“Ek het nie ’n plan nie. Almal vra my ‘het jy ’n plan?’ maar ek het niks beplan vir die volgende fase van my lewe nie,” verduidelik Klopper rustig.
“Ek wil net verskillende moontlikhede aangryp.”




