John Reyneke, waarnemende hoof van Strand Sekondêr, vertel dat die skool vele probleme het, waaronder leerders se swak gedrag asook probleme met dwelms en bendes. Foto: Rick Marais


’n Skool in Strand word deur verskeie probleme, wat glo deur bendelede veroorsaak word, oorheers.

Dié bendelede kry toegang tot die skoolterrein en dreig dan onderwysers en leerders, verkoop dwelms en besteel en beskadig die skool stukkie vir stukkie.

’n Moedelose John Reyneke, wat tans as hoof van Strand Sekondêre Skool waarneem, het Saterdag (4 Junie) ouers, onderwysers, die Strand-gemeenskapspolisiërings­forum (GPF) asook kolonel Khunjulwa Khanyile, die Strand-polisie se bevelvoerder, oor dié probleme toegespreek.

Reyneke het in Mei, nadat hy as onderwyser afgetree het, terug na die skool gekeer om probleme by dié skool uit te sorteer. Hy was vir 29 jaar ’n onderwyser. “Ek het op 9 Mei begin, maar ek was nie voorberei vir wat hier aangaan nie. Iets nuuts het elke dag gebeur. Ná twee weke het ek besef niks wat hier gebeur het ’n positiewe bydra tot onderwys of die leerders nie.” Hy sê Strand Sekondêr is soos ’n groot skip wat ’n mens nie vinnig sal kan omdraai nie.

“Ek kort almal se hulp om die skool reg te ruk – van die ouers, polisie, kerk en die res van die gemeenskap. Dis ’n skool vir die gemeenskap.”

Strand Sekondêr was vroeër ’n topskool in die omgewing, maar daardie dae is lankal reeds verby.

“Bendelede beweeg vrylik deur die skool en dra soms soos ’n wolf met skaapklere, skooluniforms om by die res in te pas. Dieselfde mense steel geld en ander eiendom van ons leerders en dreig die onderwysers.”

Hy sê die onderwysers is soms te bang om diens te doen omdat hulle afgepers word.

“Dagga en kokaïen word op die perseel verkoop. Die bendes ‘tax’ die leerders om die toilette te gebruik, met ander woorde die leerders moet betaal om die toilette te gebruik.”

’n Ruk gelede het twee onderwysers leerders op die skoolterrein gaan roep. “Die bendelede het die onderwysers gedreig en gesê hulle weet waar hulle klasgee en hulle sal hulle in die klas kom doodskiet.

“Dis die werklikheid waarmee ons te doen het.”

Volgens hom werk dit nie om leerders te skors nie, want hulle kom ná sewe dae weer terug. Hy sê straf­regtelike klagtes teen leerders wat die wet oortree, is dalk ’n oplossing.

Verder word die skool se perseel deur die bendes verrinneweer en heinings word gesteel, vensters word gereeld gebreek en by die seunsbad­kamers werk net een toilet, want die res se pype is afgesteel.

Maar volgens hom is daar darem lig aan die einde van die tonnel. Die skoolsaal se uitgebrande kragboks gaan vervang word en die plafon gaan herstel word en al die gebreekte vensters gaan vervang word. Die oudskoliere gaan van die klaskamers oorverf en vrywilligers gaan agter die skool patrolleer. Khanyile het ook tydens die vergadering beloof dat die polisie meer sigbaar by die skool gaan wees en lukrake besoeke sal deur die polisie se K9-honde-eenheid gedoen word. Reyneke sê hulle benodig almal se hulp nou om te verseker dat Strand Sekondêr weer ’n topskool is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article