Twee Helderbergse skole het elk afsonderlike probleme wat onderrig belemmer en opgelos moet word.

’n Vergadering word eersdaags gehou om die bendeprobleem by Strand Sekondêre Skool te probeer oplos terwyl die Hoërskool Macassar onlangs ’n omsendbrief aan ouers uitgestuur het om oor leerders se gedrag by die skool te kla.

Strand Sekondêr het tans groot probleme, soos intimidasie van onderwysers, vandalisme en die verkoop van dwelms, wat alles deur bendes veroorsaak of gepleeg word.

Brendyn Alloys, die sekretaris van Strand Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het bevestig lede van die GPF het verlede Woensdag (25 Mei) ’n vergadering by die Strand-polisiekantoor met die stasiebevelvoerder en John Reyneke, die hoof van Strand Sekondêre Skool, gehou. “Op die vergadering het die skoolhoof die polisie meegedeel dat bendes algehele chaos by die skool veroorsaak. Hy het aan ons vertel dat onderwysers by die skool vrees vir hul lewe omdat hulle gereeld deur bendelede gedreig word. Die skool word ook amper daagliks gevandaliseer,” sê Alloys.

Hy het ook genoem ook dat dwelms in skoolure aan leerders verkoop word.

“Van die leerders vrees glo vir hul lewe omdat hulle ook daagliks dreigemente van bendelede ontvang.”

Reyneke het bevestig die skool loop tans onder bendes deur, maar het genoem dat hy op ’n vergadering wat Saterdag (4 Junie) in Strand Sekondêre Skool se saal gehou word, aan die publiek sal sê presies wat aangaan. Die vergadering begin om 09:00.

“Alle rolspelers uit die gemeenskap, die departement van onderwys, die beheerliggaam, verskeie kerke, die polisie asook mense uit die gemeenskap sal by die vergadering betrokke wees. Ons wil praat oor die huidige situasie asook ons probleme met bendes, en ons wil ’n oplossing vir al die probleme probeer vind,” sê Reyneke.

Volgens Alloys sal die polisie se K9-eenheid ingespan word vir lukrake skoolbesoek om leerders gedurende skoolure te deursoek.

“Die polisie en wetstoepassers gaan ook probeer om dit vir onderwysers en leerders veiliger te maak by die skool sodat daar op onderrig gefokus kan word. Die polisie gaan ook sigbaarheids­patrol­lies by die skool doen,” het hy gesê.

Alloys het ook verder uitgebrei en genoem dat aandag gegee gaan word aan wie toegang tot die skoolterrein kry, en dit sal streng bestuur word.

In ’n omsendbrief wat verlede Dinsdag (24 Mei) aan die ouers van Hoërskool Macassar gestuur is, lig skoolhoof Ivan Frantz, ouers in dat die leerders se houding teenoor die onderwysers en die skool se gedragskode veroorsaak dat drastiese stappe teen leerders gedoen sal word. Die omsendbrief is ook op die skool se Facebook-blad gedeel.

“Neem asseblief kennis dat ons ernstig gaan optree teen leerders wat nie die gedragskode erken en die korrekte skooldrag dra nie.

“Van môre (Woensdag 25 Mei) gaan klere wat nie deel is van ons skooldrag nie, ingeneem word en u as die ouer sal dit moet kom afhaal wanneer die geleentheid geskep word. Dieselfde geld vir juweliersware en keppies of musse,” het die omsendbrief gelui.

Hy het genoem dat selfone ook ’n groot bron van kommer is omdat leerders harde musiek daarop speel en het gesê selfone sal nie by leerders toegelaat word nie.

“Indien u kind in besit is van ’n selfoon, gaan dit ingeneem word en ’n boete van R150 moet betaal word soos uitgestip in die selfoonbeleid.”

Die omsendbrief dui ook aan as ’n leerder onbeskof teenoor opvoeders is of nie hul werk in die klas doen nie en klasse ontwrig of nie in die klas is nie, gaan die leerder huis toe gestuur word.

“U as die ouer gaan dan gevra word om die skool te besoek sodat ons die probleem kan oplos en die situasie by die skool kan verbeter.”

Die brief verduidelik verder die meeste leerders is by die skool om gehalte-opvoeding te ontvang en om suksesvol te wees.

“Ons kan nie toelaat dat ’n minderheid ons skool afbreek en u kind se onderrig strem nie. Ouers, help ons asseblief deur met u kind te praat en te verseker dat hy of sy by die gedragskode van die skool hou en doen wat reg is,” sluit die brief af.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article