Vyf rolbalspelers van Hoërskool Strand het verlede jaar ’n spesiale uitnodiging van die Westelike Provinsie-rolbalvereniging ontvang om in November aan die WP junior meesterstoernooi deel te neem.
Slegs ’n beperkte aantal spelers is vir dié kompetisie gekies en McKenzie Knipe (o.15), Shannon Phillip (o.15), Jason Fouché (o.20), Juan Joubert (o.20) en Michael Ferreira (o.20) was deel van die span. Die toernooi het by die rolbalklub van Pollsmoor-gevangenis plaasgevind.
Ná ’n dag en ’n half van uitdunne het McKenzie, Shannon en Jason, saam met ’n speler van ’n ander klub deurgedring na die eindstryd. Shannon en Jason het uitgespeel vir die derde en vierde plekke en McKenzie en Aiden Lourens van Pollsmoor-rolbalklub het uitgespeel vir goud en silwer. McKenzie het die goud en die titel van WP se junior meesterskampioen gewen met ’n oorwinning van 21-17. Jason het vir Shannon naelskraap gewen en het bronsmedaljes verower. McKenzie is ook na die WP se senior meesterstoernooi genooi wat 8 en 9 Desember 2018 in Gordonsbaai plaasgevind het.
Vyf spelers van die skool is Dinsdag 29 Januarie in WP se o.15- en o.20-spanne ingesluit wat in die Maartskoolvakansie aan die Suid-Afrikaanse kampioenskap in Bloemfontein gaan deelneem.
Armand Smith is in die o.15-span opgeneem en McKenzie Knipe, Shannon Phillip, Juan Joubert en Jason Fouché sal WP in die o.20-toernooi verteenwoordig.




