Die Wes-Kaapse en Kaapstad-tennisspanne vir 2024 is Vrydagaand (8 Desember) by die inhuldigingseremonie by die Hoërskool Bellville bekend gemaak. Raven Klaasen, voormalige professionele tennisspeler (nr. 7 op ATP-dubbelspelranglys) wat Suid-Afrika in die Davis Cup verteenwoordig het, was die gasspreker. Hy het die spelers geïnspireer en vertel van sy pad na sukses van skoolseun in Kuilsrivier na top- internasionale dubbelspelspeler. Isabelle Strauss is nr. 2 in die Wes-Kaapse o.15-Disasspan. Sy gaan van Woensdag 10 tot Saterdag 13 Januarie 2024 aan die nasionale toernooi in Pretoria deelneem. Izak Burger is gekies vir die Kaapstad-o.19-span en Bernard van Staden dien as reserwe vir die span wat in Maart 2024 aan die Synergy Cup gaan deelneem.


Hoërskool Strand is baie trots en opgewonde oor sy 2023 Arend, Gino Cupido, se toekoms. Gino het dié week pen op papier gesit en ’n gesamentlike kontrak by die Westelike Provinsie asook SA-sewes geteken. Saam met dit is Gino ook opgeneem in die SA o.20-oefengroep waar hy hand-aan-hand saam met hulle gaan werk om sy rehabilitasie, vir ’n kniebesering wat hy vroeër die jaar opgedoen het, voort te sit. “Hoërskool Strand wens jou alle sterkte toe vir jou rugbyloopbaan, Gino. Ons kyk uit daarna vir die dag wat jy die groot groen en goud oor jou kop trek!” lees ’n persverklaring.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article