Inskrywings vir die nasionale Sanlam WOW-spelfees sluit oor net ’n week.
Die kompetisie is deel van die US Woordfees se Woorde open Wêrelde-bemagtigingsprojek (WOW), wat vanjaar mondig is. Die spelfees verbreed al sedert 2003 leerders en onderwysers se horisonne deur kreatiewe programme gerig op taal, letterkunde en die kunste aan te bied.
Die kompetisie word in al nege provinsies aangebied vir skole en individuele leerders. Registrasie en deelname is gratis en leerders van enige taalvlak in Afrikaans, Engels en Xhosa word genooi om in die taalkategorieë deel te neem: Afrikaans gr. 1 tot gr. 10; Engels gr. 5 tot gr. 9; en Xhosa gr. 6 tot gr. 8.
Inskrywingsvorms, spellyste, aanlyn speltoetse en ander bronne kan by wow.woordfees.co.za gevind word. Vasgestelde spelfeesdatums en -venues sal met verloop van tyd bekendgemaak word. Die nasionale eindronde vind Saterdag 28 September by die Universiteit Stellenbosch (US) plaas.
Die sluitingsdatum vir inskrywings is Vrydag 31 Mei. Die spelfees gee ook aan jong leerders blootstelling aan die US en die geleenthede wat dié instansie bied, voornemende studente kry die inligting wat hulle benodig vir tersiêre studie en talentvolle kandidate word bemagtig met WOW-studiebeurse van die US.
WOW bied ook jaarliks ’n program by die Toyota US Woordfees aan ter viering van die verruimende waarde van die geskrewe en gesproke woord in al sy gedaantes.
Fiona van Kerwel, projekbestuurder van WOW, sê die aanmoediging van prestasie en die verering van uitnemendheid is ’n kerndoelwit en -prioriteit van dié bemagtigingsprojek.
“As ons nie seker maak dat ons kinders ’n goeie grondslag het van woordeskat, woordbegrip en woordgebruik nie, gaan ons hulle ’n onreg aandoen,” sê Van Kerwel.
“Die spelfees is ’n veeltalige platform waar leerders op ’n prettige en opvoedkundige wyse met woorde omgaan om ’n beter begrip van taal te hê en uiteindelik beter te kan kommunikeer – op álle vlakke: wanneer hulle moet luister, wanneer hulle moet praat en ook wanneer hulle moet skryf. Wanneer ons dus sê ons wil spel-spel speel, help ons leerders om kommunikasie op ’n verstaanbare, kreatiewe, en selfs op kritiese wyse te laat oorkom.
“Buiten dit, deurdat die leerder opstaan om die woord hardop te spel of uit te klank, bou ons aan sy selfvertroue en help ons hom om die vrymoedigheid te hê om homself uit te druk in ’n taal waarin hy gemaklik is. Terselfdertyd help dit onderwysers geweldig, want daar is aanlyn toetse wat hulle kan gebruik om leerders besig te hou en saam met hulle die woorde te oefen. Ons werk ook met woorde wat uit die kurrikulum van die betrokke grade kom.”



