Radio Kaapse Kansel het onlangs ’n Winter Warmer Socks That Rock-veldtog gehad waar sokkies in vennootskap met Samaritan’s Feet SA vir kwesbare gemeenskappe geskenk en ingesamel het. Op die dag van die oorhandiging het jongelinge van Sir Lowry’s Pass Village en leerders van Devonvallei Primêr by die span aangesluit vir ’n spesiale oggend van voete-was en ’n opvoedkundige toer deur die radiostasie.


Die Kaapse winter kan ongenaakbaar wees, veral vir ons reeds kwesbare gemeenskappe.

’n Snoesige winter gevul met basiese produkte soos skoene en kouse is iets waarvan menige individue slegs kan droom. Daarom is dit wonderlik dat Radio Kaapse Kansel sy platform kon gebruik om luisteraars bewus te maak van die groot nood in die plaaslike omgewing deur die #WinterWarmerSocksThatRock-veldtog in samewerking met Samaritan’s Feet SA te reël.

Meer as 1,5 miljard mense ly aan grondoordraagbare voetinfeksies, wat deur die regte paar skoene en kouse voorkom sou kon word. Kinders wat die winter kaalvoet moet aandurf, het ’n groter gevaar vir bevriesing (frostbite) en talle ander voetinfeksies. Nogtans besit meer as 600 miljoen mense wêreldwyd nie ’n enkele paar skoene nie.

“Die persoonlike benadering waarop Samaritan’s Feet SA hierdie behoefte aandurf, stel ’n pragtige voorbeeld vir menige. Nie net bedien hulle hul plaaslike gemeenskappe met ’n paar skoene nie, maar bring ook die hoop van Jesus Christus aan elke individu aan wie hulle ’n paar skoene oorhandig deur hul voete te was en saam met hulle te bid. Dis vir ons ’n voorreg om by te dra tot ’n organisasie wat klem lê op verhouding bou wanneer hulle gee,” het Wanda Bam, Kaapse Kansel 729AM se stasiebestuurder, gesê.

Kaapse Kansel kon deur die #WinterWarmerSocksThatRock-veldtog saam met hul getroue luisteraars en skenkings van ander organisasies bydra tot die insameling van 9 828 splinternuwe sokkies wat menige voetjies hierdie winter gaan warm hou.

’n Spesiale oorhandiging aan Samaritan’s Feet se uitvoerende hoof, Hermien Louw, en Marietta Hopley is Dinsdag 27 Junie by Kaapse Kansel se kantoor gedoen. Die oggend was ook ’n dag van opwinding vir paar leerders van Sir Lowry’s Pass Village en Devonvallei Primêr, wat buiten ’n spesiale voetwas- en bidsessie saam met van die omroepers van Kaapse Kansel ook sommer ’n opvoedkundige toer van die uitsaai-ateljee en opnameproses ontvang het.

“As ouma van drie kleinkinders kan ek met sekerheid getuig dit is die hart van Radio Kaapse Kansel om ons gemeenskappe – veral kinders – hoop vir ’n beter toekoms te bied. Saam kan ons blywende uitwerking hê, wat lewens verryk – liggaam, siel en gees. ’n Hartlike dankie aan elke luisteraar, organisasie en individu wat in die proses voete sowel as harte verwarm en lewens verander.”Vir meer inligting besoek www.capepulpit.co.za of stuur ’n e-pos-navraag na info@capepulpit.co.za.

Youth4Life se Hettie Orffer saam met Sima Zhobani en Jeronicia Kees van Sir Lowry’s Pass.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article