Die Strand-polisie ondersoek ‘n saak van mood nadat die lewelose liggame van twee mans in die vroeë ure vanoggend (Donderdag 3 April) in Sercorpark aangetref is.
Luidens ‘n polisieverslag is die gruvonds omstreeks 01:15 gemaak toe ‘n beampte op patrollie op ‘n klagte reageer het. Inligting wat deur gemeenskapslede ontvang is het die beampte na ‘n woning in Adelastraat gelei. Met sy aankoms, het hy die liggame van twee bruinmans waar hulle in ‘n plas van hul eie bloed in die straat gelê het, ontdek. Die beampte het ook beslag gelê op vyf patrone wat op die toneel gevind is.
Daar word vermoed dat die mans beide slagoffers van ‘n noodlottige skietvoorval is.
Volgens die polisie is daar nog geen verdagtes geïdentifiseer nie en duur die ondersoek steeds voort. Enigiemand met verdere inligting oor die voorval wat kan help om die slagoffers te identifiseer en tot ‘n deurbraak in die ondersoek kan lei, word versoek om die Strand-polisiekantoor by 021 854 9100 of 082 850 9628 te skakel.




