Die Macassar-polisie ondersoek ’n saak van moord nadat ’n middeljarige man in ’n vermeende bendeverwante skietvoorval meters van sy woning doodgeskiet is.
Die voorval het Maandag (9 Mei) in die Riverside-gemeenskap plaasgevind en die lewe van Gerhardt Leconie, ’n plaaslike inwoner, geëis.
Sersant Desire Adendolf, ’n woordvoerder van die Macassar-polisie, het gesê polisiebeamptes is om 10:10 in ’n noodoproep oor ’n noodlottige skietvoorval na die misdaadtoneel oorkant die oorledene se tuiste in Krymekaarstraat ontbied. Met hul aankoms het hulle die 44-jarige slagoffer aangetref waar hy in die pad neergesak het. Leconie het vier skietwonde opgedoen en op die toneel beswyk.
Volgens Jona-Leigh Abrahams, Leconie se niggie, het die voorval ten aanskoue van sy 66-jarige ma afgespeel. Sy sê haar bedroefde tante, Grace Leconie, is steeds erg geskok nadat sy gesien het hoe twee mans in klapmusse haar seun afmaai.
“Sy praat steeds nie oor wat gebeur het nie. Al wat ons weet, is dat twee mans hom genader het terwyl hy buite op sy foon besig was. Hulle het op hom losgebrand en van die toneel af gevlug. My neef het op die toneel oorkant die pad aan twee kopwonde en twee skietwonde in die bolyf beswyk,” het die 24-jarige naasbestaande gesê.
Volgens Abrahams was Leconie vantevore by bendes betrokke, maar hy het in die laaste tyd ’n nuwe blaadjie omgeblaai en rustig geword.
Sy het verder vertel haar geliefde neef was die soort mens wie se geselskap jy ure lank kon geniet en iemand wat ’n groot vriendekring gehad het.
“Ons gaan veral sy teenwoordigheid mis,” het sy aangevoer “en ek veral hom as die een wat altyd eerste op my Facebook-inskrywings gereageer het.”
Leconie word oorleef deur sy ma, Grace Leconie, sy broer, Ricardo Jacobs (40), sy suster, Roneesh Leconie (27) en sy twee dogters van 11 en nege.
Niemand is nog in verband met die moord in hegtenis geneem nie. Mense met inligting wat tot ’n deurbraak in die saak of tot inhegtenisnemings kan lei, word aangespoor om na vore te kom. Hulle kan die ondersoekbeampte, speursersant Norman Ngonelo, by die Macassar-polisiekantoor by 021 857 7107 bel.


