“Niks wat enigiemand sê, gaan my laat beter voel of my kind terugbring nie.”

Só sê ’n bedroefde Ellen Conradie, die ma van die Macassar-minibustaxibe­stuurder wat die afgelope Donderdag (29 Augustus) in ’n skietaanval dood is. Die slagoffer, Wayne Conradie (39), is op die oog af koelbloedig vermoor deur twee gewapende verdagtes wat in die vroeë oggendure op sy minibustaxi by die taxistaanplek in Zandvlietweg toegesak het.

Die voorval is gevolg deur nog ’n noodlottige skietvoorval wat Maandag (2 September) in Eersterivier afgespeel het. Volgens owerhede is ’n 35-jarige man omstreeks 06:15 met verskeie skietwonde in sy voertuig in Marigoldstraat, Hill Crest, aangetref.

Die 68-jarige ma vertel sy het die nuus van haar seun se skietdood omstreeks 06:40 ontvang nadat die buurmense se dogter meegedeel is dat “Wayne Lek”, soos haar kind vir baie ander bekend was, doodgeskiet is.

“Die seer het my oorweldig en ek het gevoel ek kon die dak af skree,” deel die ouer, wat sigbaar in rou gedompel is weens die verlies van haar geliefde seun.

Volgens die provinsiale polisiewoordvoerder sers. Wesley Twigg word ’n saak van moord, wat deur die Macassar-polisie geregistreer is, ondersoek. Twigg het bevestig getuies beweer die slagoffer het in sy minibustaxi gesit toe hy deur twee onbekende verdagtes genader is wat op hom begin skiet het.

“Die slagoffer het skietwonde aan sy liggaam opgedoen en is op die toneel deur mediese personeel dood verklaar,” sê Twigg.

Hy het verder bevestig dat die verdagtes in albei skietvoorvalle van die tonele af gevlug het en steeds op vrye voet is. Die motief vir die aanvalle word deur die polisie ondersoek.

Conradie het haar seun – die jongste van drie – as ’n ware mense-mens met ’n hart van goud beskryf. “Hy het alles vir my beteken. Ek kon hom enigiets vra en hy het dit sonder huiwering gedoen. As ek iewers heen moes gaan, het hy my geneem. Hy het elke dag by my huis ingeval om te kom kyk wat sy ma doen. Ek gaan my kind vreeslik baie mis.”

’n Begrafnisdiens vir Conradie word nog gereël.

DistriksPos & Helderberg Gazette het die slagoffer se vrou om kommentaar genader, maar die emosionele eggenoot het die geleentheid van die hand gewys.

Mede-minibustaxibestuurders het met die koerant se besoek aan die taxistaanplek, waar die skietmoord afgespeel het, gesê die grudaad het nie net skokgolwe deur die gemeenskap gestuur nie, maar selfs taxibestuurders en pendelaars die skrik op die lyf gejaag.

“Ons is seer en rou ná die skietvoorval wat een van ons eie wreed van die lewe ontneem het. Dis regtig hartseer. Maar wat hier by die staanplek gebeur het, het ons ook hard getref. ’n Mens kan nie help om te wonder of taxibestuurders geteiken word, en wie volgende mag wees nie. Hel, ons is selfs skrikkerig om al douvoordag by die staanplek te staan en wag vir passasiers, wat ook bang is om by die staanplek te wag,” het ’n taxibestuurder gesê.

’n Ander taxibestuurder het die kollig laat val op die kwessie van beligting en sekuriteit, wat passasiers onveilig laat voel. “Ons staanplek lyk meer soos ’n busstop as ’n taxistaanplek,” voeg die taxibestuurder by.

Verskeie oproepe aan die voorsitter van die Cape Amalgamated Taxi Association (Cata) vir kommentaar, het onbeantwoord gebly.

Boodskappe van medelye en herinnering is op sosiale media, insluitend Facebook, gedeel.

Fayrooz Pillay skryf: “Aan die gerespekteerde taxibestuurders van Macassar – ons is diep bedroef oor die verlies van Wayne Conradie. Wayne was nie net ons bestuurder nie, maar ’n geliefde vriend vir almal wat op openbare vervoer staatgemaak het. Sy lewendige en vriendelike gees het elke reis gladder en aangenamer gemaak.

“Sy teenwoordigheid sal diep gemis word, en sy nalatenskap sal altyd ’n warm herinnering wees aan die vele reise wat hy beter gemaak het. Ons gemeenskap het ’n geliefde vriend en ’n goeie bestuurder verloor. Wayne sal vir altyd onthou word vir die vreugde en troos wat hy in ons lewe gebring het.”

Chanté du Toit deel: “Ek is so hartseer dat jy so skielik oorlede is. Jy was altyd daar vir my en ek sal jou nooit vergeet nie. Jou teenwoordigheid het vreugde in ons lewe gebring. Ons sal jou vir altyd mis. Tot ons weer ontmoet – rus in vrede, Wayne Conradie.”

Twigg doen ’n beroep op enigiemand met verdere inligting oor die skietmoorde om Crime Stop by 08600 10111 te skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article