Die Wes-Kaapse Bloeddiens het ’n dringende beroep op die publiek gedoen om bloed te skenk – veral in die maand van liefde. Met een skenking kan tot drie lewens gered word.
Ongelukkig heers tans ’n tekort aan bloed in die Wes-Kaap, aangesien slegs 1% van die bevolking aktief bloed skenk. Die bloeddiens het ten doel om meer mense aan te moedig om bloed te skenk sodat daar altyd genoeg voorraad vir minstens vyf dae is.
Bloed is noodsaaklik vir lewensreddende behandelings in hospitale, soos operasies, bevallings, motorongelukke, kankerbehandeling en ander mediese toestande.
Michelle Vermeulen, die bloeddiens se hoof van bemarking en skakelwese, sê dit neem slegs 30 minute om bloed te skenk en sy moedig mense aan om ’n daad van liefde te doen deur bloed te skenk.
As ’n teken van waardering sal elke skenker hierdie maand ’n fortuinkoekie ontvang. Die koekie is ’n herinnering dat selfs klein dade van goedhartigheid ’n groot impak kan hê.
Jy kan kwalifiseer om bloed te skenk as jy tussen 16 en 75 jaar oud is, 50 kg of meer weeg, goeie algemene gesondheid geniet en ’n veilige seksuele leefstyl handhaaf. . Besoek www.wcbs.org.za, laai die WKBD-toepassing af of stuur ’n WhatsApp-boodskap na 060 549 7244 vir nog inligting.


