’n Speur-konstabel van Macassar-polisie het onlangs ’n skuldigbevinding in ’n saak gekry en daar word geglo as hy aan ’n saak werk, word dit vinnig opgelos en afgehandel.
Speur-konstabel Eric Mboniswa, die ondersoekbeampte in verskeie sake, het onlangs daarin geslaag dat ’n verdagte in twee verskillende sake skuldig bevind is. Ashley Diedericks is onderskeidelik in 2018 en 2019 van die onwettige besit van ’n vuurwapen aangekla.
Te danke aan Mboniswa se flink speurwerk het die verdagte op verskeie aanklagte altesaam 10 jaar tronkstraf ontvang.
Volgens Mboniswa is die sleutel tot sy sukses die feit dat hy geen steen onaangeraak laat nie en al die leidrade opvolg. “Ek kry dadelik al my verklarings van die mense betrokke by die saak. Hoe langer ’n mens wag, hoe groter is die kans dat die persoon nie wil praat oor wat presies gebeur het nie,” sê Mboniswa.
Hy het in 2011 by die polisie aangesluit nadat hy twee jaar opleiding by die polisie-akademie in Graaff-Reinet ontvang het.
“Ek is van die straat af as ’n speurder gewerf. Deur die jare het ek aan verskeie sake gewerk. Ek onthou een saak waarin die man sy vrou met ’n voorwerp doodgeslaan het en daar was oral bloed aan die mure. Dit was moeilik om te sien hoe wreed die vrou vermoor is, maar dit is my werk en ek moes die toneel professioneel benader.”
Hy vertel dat die polisie nie werk as individue nie, maar as ’n span. “As span moet ons die voetwerk in elke saak doen. Ons moet als kry – van vingerafdrukke tot foto’s van die toneel en almal se verklarings.”
Volgens sersant Desire Adendolf, ’n woordvoerder van Macassar-polisie, is dit Mboniswa se ekstra ure van werk wat die verskil maak. “Hy is altyd reg om aan ’n saak te werk. Al is dit ook in die middel van die nag. Dis wat van hom so ’n besondere speurder maak. As die ander huis toe gaan, dan sit hy nog en werk aan sy sake,” sê sy.
Kaptein Quinton Daniels van sigbare polisiëring (Vispol) is van mening dat Mboniswa se lojaliteit en bereidwilligheid om altyd die ekstra myl te loop, hom so suksesvol maak.



