Die toewyding, veerkragtigheid en deernis van personeellede van die Sir Lowry’s Pass-gemeenskapsdagsentrum aan inwoners wat deur die oorstromings in September verlede jaar geraak is, het aan dié sentrum ’n prys besorg.
Die plaaslike gemeenskapsbron is onlangs by die jaarlikse prysuitdeling van die Stad Kaapstad se gesondheidsdepartement vereer. Die kliniek is by die departement se prysuitdelingseremonie as naaswenner vir uitstaande diens aan die gemeenskap vereer. Die sertifikaat was ter erkenning van die gesondheidsfasiliteit se besonderse ondersteuning aan die gemeenskap tydens September 2023 se oorstromings wat verwoesting in verskeie hoekies van die Sir Lowry’s Pass-omgewing gesaai het. DistriksPos & Helderberg Gazette het destyds berig oor ’n betoging wat weens die natuurlike ramp ontstaan het (“ ‘Re-house us!’ ”, 25 Oktober 2023). Slagoffers wat weens die oorstromings dakloos, sonder heenkome en verplaas gelaat is, het op Donderdag 19 Oktober verlede jaar die strate uit woede ingevaar om beswaar te maak. Die ontstoke groep, waaronder 21 families, het hoofroetes in die gemeenskap met brandende voorwerpe afgesper, wat tot polisie-reaksie gelei het.
Benewens gemeenskapslede wat deur ’n behuisingsprobleem in die gesig gestaar is, is die kliniek gedwing om sy deure weens erge oorstromings te sluit omdat toegang onmoontlik was.
Nadat die kliniek se vorige bestuurder gesien het hoe pasiënte steeds vir hul chroniese medikasie buite staan, al was die water kniehoog, het haar hart gebreek. Sy het toe die besluit geneem om die fasiliteit te heropen en kwesbares, insluitend bejaardes en verswaktes, geprioritiseer.
“Ten spyte van die fisieke hindernisse het die personeel deur vloedwater geloop om die kliniek te bereik, vasbeslote om sorg aan behoeftiges te verskaf,” het die raadslid Patricia van der Ross, die burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, gesê.
“Die CDC-span het verder as hul normale pligte gegaan en uitsonderlike toewyding, veerkragtigheid en deernis tydens een van die mees uitdagende tye wat die gemeenskap beleef het, getoon.”
Die prysuitdelingseremonie het op Vrydag 11 Oktober in die Sarepta-gemeenskapsentrum plaasgevind en die Sir Lowry’s Pass-gemeenskapsorgsentrum het die hele Helderberg-kom se gesondheidsorg verteenwoordig.
“Hierdie toekenning verhoog die span se moraal en herinner elke lid dat hul toewyding om volgehoue deernisvolle sorg te lewer, gesien en waardeer word,” het Van der Ross bygevoeg.
Sy het voorts gesê sy hoop die gemeenskap van Sir Lowry’s Pass is trots op die kliniek se erkenning, want dit is gerusstellend dat hul plaaslike gesondheidsorgfasiliteit nie net toegerus is om hoëgehalte sorg te verskaf nie, maar ook bereid is om in tye van krisis by hulle te staan.




