’n Sussie-en-boetie-paartjie van Strand het met puik deelname in twee jeugskoue letterlik die bul by die horings gepak.
Die agtjarige Jo-Ané en haar driejarige boetie, Juan Geldenhuys, het stof in die oë van hul teenstanders geskop by die jeugskoue wat verlede maand in Heidelberg en Riversdal plaasgevind het.
Klein Jo-Ané is geen vreemdeling in die sport nie (“Bul-‘fluisteraar’ wen,” DistriksPos, 21 Februarie 2019), terwyl die jonger Juan, wat in sy sussie se voetspore volg, as nuweling en die jongste deelnemer op dié gebied uitgeblink het.
Albei kleingoed het met hul grootouers se Charolais-bulle in die ouderdomsgroep vir 10 jaar en onder in die junior vleisbees-skouman-afdeling meegeding. Jo-Ané het soos altyd met haar ongelooflike vermoë om die reusebul op só jong ouderdom te versorg en met sigbare liefde te hanteer, bo die res uitgestaan. Sy en haar bul, Venom, het danksy hul vertrouensband ’n eerste plek in albei jeugskoue opgeraap. Die eenjarige bul is die seun van Falcon, wat voorheen in haar sukses gedeel het.
Juan en sy bulkalf, The Rock, of Klippie, soos hy hom gedoop het, het die tweede plek in albei jeugskoue behaal. Dié peuter se bulletjie is drie maande oud en dié tweetjies koester ’n baie spesiale band omdat The Rock se ma met sy geboorte dood is en hy wonderbaarlik oorleef het. En, omdat hy altyd gevra het om soos sussie ook te skou wanneer sy gaan oefen het, het Oupa toe besluit om die kalfie vir hom mak te maak.
“Nytjie is ongelooflik lief vir diere en wil graag eendag ’n veearts word as sy groot is. Juan is net so lief vir diere en doen alles wat sy sussie doen,” het Yolandie, hul trotse mamma, verklap.
Volgens Yolandie spruit die Laerskool Lochnerhof-leerder se ongelooflike liefde vir diere uit haar grootwordjare tussen diere op haar grootouers, Thys en Elaine Benson, se plaas in Riversdal.
Ouma en Oupa is die enigste geregistreerde Charolais-telers in die Wes-Kaap en sy en haar broer deel skynbaar in hul passie om met hierdie diere te skou.
’n Jeugskou is ’n sportsoort waar deelnemers so jonk soos vyf jaar, of in hierdie geval soos Juan op drie, met diere skou en hul band met die dier en vaardighede in hantering tentoonstel.
Deelnemers moet punte in verskeie afdelings op die skou verdien, en dié wat die meeste punte verwerf, word as die wenner aangewys.
Iemand so jonk soos die plaaslike sibbe moet net die dier in die skouring kan hanteer en beheer.
Jo-Ané en Juan het met hul besonderse prestasies vir die Westelike Provinsie-jeugskoukampioenskap, wat Donderdag 31 Maart en Vrydag 1 April in Clanwilliam beslis word, gekwalifiseer.
Net Jo-Ané gaan egter deelneem.




