Die drie koeëlwonde in Curtley Adams se rug. Die wond heel onder is baie naby aan sy onderste rugwerwels en dit hou steeds ’n stuk van sy T-hemp vas. Hy sal later geopereer word, maar is vir eers by die huis.


’n Plaaslike pa het sy ontevredenheid uitgespreek oor bendes en bendegeweld nadat sy seun die afgelope naweek in ’n vermeende bendeverwante skietvoorval gewond is.

Die Strand-polisie ondersoek ’n saak van poging tot moord nadat 21-jarige Curtley Adams in die lae rug geskiet is.

Volgens die Strand-polisiewoordvoerder adjudant-offisier Nico Beukes, het die voorval Saterdag 5 Maart omstreeks 20:45 in Broadlandspark plaasgevind toe daar in Finkstraat op Adams losgebrand is.

“My seun is onskuldig. Hy het buite gestaan en na van sy ‘mixes’ geluister wat hy altyd maak toe twee mans hom nader en sy jonger vriend aangestap het. Die een man het omgedraai en weggehardloop en dis toe dat die skote afgevuur is,” sê die ontstelde ouer, Gaddafi Adams.

Curtley het toe die skote begin klap, oor sy vriend gebuk om hom te beskerm en dis toe dat die koeëls sy lae rug en rug getref het.

Adams was tydens sy seun se skietery by die werk toe die tyding deurkom en hy is dadelik Tygerberg-hospitaal toe om na sy seun te gaan omsien.

“My seun het baie pyn verduur omdat daar drie skote in sy rug is en een van hulle is naby aan sy lae rugwerwels. Hy het ’n krapmerk aan sy een elmboog waar een van die koeëls hom net-net gemis het.”

Sy seun is steeds nie geopereer nie en kan eers later die week vir ’n operasie gaan. Hy sterk tans by die huis aan.

“Ek was 16 jaar in die polisie gewees en ek weet nie of iemand dalk iets teen my gehad het wat my seun wou target nie.

“My seun is ’n goeie mens en het verlede jaar skool klaargemaak. Sy groot droom is om eendag in die weermag te wees.”

Hy weet steeds nie hoekom sy seun geskiet is nie.

Beukes het bevestig die polisie is tans op soek na ’n manlike verdagte in verband met die skietery. Net een koeël is op die toneel gevind.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article