Die oorlewende varke op die agterkant van die veevragmotor ná die ongeluk. Foto’s: Barend J. Williams


Chaos het gisteroggend (21 Januarie) uitgebreek in die hoefysterdraai van Sir Lowryspas ná ’n botsing tussen ’n veevragmotor en ’n vrugtetrok waarin ses varke dood is en nog 19 gered moes word.

Die ongeluk het omstreeks 09:30 plaasgevind toe die vrugtetrok, wat in die rigting van Kaapstad oor Sir Lowryspas op die N2 naby Gordonsbaai gery het, se remme gefaal het en dit agter in die veevragmotor vasgery het wat 200 varke op sy sleepwa vervoer het. Die impak het veroorsaak dat die vrugtetrok die pad verlaat het, oor die helling gerol en aan die brand geslaan het.

“Die bestuurder van die vrugtetrok het probeer rem, maar die remme het gefaal, en die trok het agter in die veevragmotor vasgery,” het kapt. F.C. van Wyk, woordvoerder van die Wes-Kaapse Provinsiale Polisie, gesê.

Hy het bygevoeg dat die vrugtetrok se vraghouer in die botsing afgeval en sy vrag gestort het voordat die trok aan die brand geslaan het.

“Net die bestuurder en passasier van die trok wat uitgebrand het, het geringe beserings opgedoen,” het Jermaine Carelse, woordvoerder van die Stad Kaapstad se Brand- en Reddingsdienste, gesê.

Brandweerspanne van Strand en Sir Lowry’s Pass het om 10:00 op die toneel aangekom en die brand teen 11:20 geblus. Die brand het ook na ’n deel van die berg versprei, wat vinnig in bedwang gebring is.

Dierewelsynorganisasies, insluitend die Kaap van Goeie Hoop Dierebeskermingsvereniging (DBV), Animal Welfare Society Helderberg en Animal Welfare Society Grabouw, was op die toneel om die varke te help.

Julia Evans, bestuurder van die Animal Welfare Society in Helderberg, wat een van die eerste dierewelsyngroepe op die toneel was, het gesê dit was ’n chaotiese situasie.

“Twee varke het dood in die pad gelê terwyl nog drie los was en rondgehardloop het. In die agtergrond was die vrugtetrok besig om uit te brand,” het Evans gesê.

Later het die Animal Welfare Society Grabouw aangesluit, en die twee dierewelsyngroepe het die varke gevang voordat hulle die DBV ontbied het.

“Vier varke is met aankoms dood verklaar, en nog twee moes uitgesit word weens die omvang van hul beserings,” het Belinda Abraham, kommunikasiebestuurder van die DBV, gesê.

Animal Welfare Society Helderberg en Grabouw het die ernstig beseerde diere verdoof totdat DBV-inspekteurs die behandeling oorgeneem het. Die oorlewende varke is deur brandweerspanne met water gespuit om oorverhitting te voorkom.

Die sleepwa wat die varke vervoer het, is gedeeltelik beskadig, en 19 diere in die beskadigde gedeelte moes na ’n ander trok oorgeplaas word vir veilige vervoer. Volgens die DBV het die veevragmotor aan die minimum standaarde vir dierevervoer voldoen, en geen oortredings van die dierebeskermingswet is gevind nie.

“Dit was eenvoudig frats ongeluk wat nie die skuld van die bestuurder van die veevragmotor blyk te wees nie,” het Abraham bygevoeg.

Muneera Allie, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van mobiliteit, het bevestig dat provinsiale verkeersbeamptes stop-en-ry-maatreëls ingestel het om die verkeer te beheer.

“Teen 15:00 was alle bane heropen, behalwe die linkerbaan in die rigting van Grabouw,” het Allie gesê.

Albei trokke is veilig van die toneel verwyder. Die polisie het bevestig dat ’n ongelukverslag geopen is en dat die ondersoek aan die gang is.

Varke verduur die Gordonsbaaise hitte ná die botsing.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article