Skermgrepe uit video wat die konfrontasie tussen wetstoepasser en Strand Sekondêre leerder toon
Skermgrepe van die video wat na die DistriksPos en Helderberg Gazette gestuur is.

‘n Mens kan in ‘n 31-sekonde-video sien hoe ‘n wetstoepasser en ‘n leerder van Strand Sekondêre Skool mekaar ruk en pluk voordat die volwassene die kind oorrompel om iets uit sy hand te vat terwyl die leerder skree dat iemand moet voortgaan om ‘n video-opname te maak.

Die skermopname van ‘n Facebook-video getiteld “Die Law Dalla Wrong” is verlede Dinsdag (20 Mei) anoniem aan DistriksPos & Helderberg Gazette gestuur, met die bewering dat dit by Strand Sekondêr plaasgevind het. Die anonieme bron het beweer die voorval het dieselfde dag gebeur en die video was kortstondig op sosiale media beskikbaar.

By navraag aan die Wes-Kaapse Departement van Onderwys (WKOD) is die bewering deur die provinsiale onderwysdepartement weerlê.

Luidens terugvoer van die WKOD- woordvoerder Bronagh Hammond het die voorval al in Oktober verlede jaar plaasgevind nadat die leerder en twee ander glo met dagga in hul besit betrap is en geweier het om na die hoof se kantoor te gaan.

“Die leerders was destyds na bewering onder die invloed van onwettige middels en het gewelddadig teenoor die beampte geword en ingryping was nodig,” het Hammond gesê.

Sy het bygevoeg die saak is na Strand Sekondêr se beheerliggaam verwys, wat die drie leerders op ‘n dwelmintervensieprogram gestuur het. Twee het dit voltooi, maar die leerder in die video het nie. Hammond het bevestig die leerder is deur sy ouers gederegistreer nadat hy vroeër in Mei weer ‘n beampte probeer aanrand het.

“Die beamptes bied onskatbare ondersteuning aan ons hoërisikoskole en verseker die veiligheid van alle leerders en skoolpersoneel,”

Bronagh Hammond, WKOD- woordvoerder

Die WKOD het tans 64 wetstoepassers by 32 prioriteitskole in Kaapstad as deel van hul Skoolhulpbronbeampte-projek. Daarbenewens ontvang 22 ander skole, insluitend Strand Sekondêr, onafhanklike beamptes van die Stad Kaapstad.

“Voor die instelling van die projek was daar baie klagtes van weerbarstige gedrag en selfs geweld by die skool, maar sedert die beamptes se teenwoordigheid het hierdie klagtes byna opgedroog,”

Wayne Dyason, ‘n woordvoerder van die Stad se afdeling vir Wetstoepassing.

Die beamptes patrolleer die skoolterrein daagliks om misdaad te voorkom, identifiseer vroegtydig onwettige aktiwiteite, verseker veilige beweging van leerders, bou positiewe verhoudings met leerders en is in die skoolgemeenskap sigbaar terwyl hulle skoolsaamtrekke in ‘n veiligheidsrol bywoon.

“Dit is ‘n ferm maar hoogs ingetoë benadering wat gevolg word om leerders te hanteer wat weier om aan redelike versoeke te voldoen,” het Dyason gesê.

Hy het verduidelik dat die beampte geregtig was om die leerders te deursoek aangesien alle openbare skole dwelmvrye en wapenvrye sones is.

Tydens die voorval het die beampte volgens sy opleiding en die situasie se bedreigingsvlak opgetree.

Beamptes mag leerders wat nie saamwerk nie, beperk.

‘n Interne ondersoek is afgehandel, en geen formele klagte is teen die beampte ingedien nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article