Sam Fourie, ’n inwoner van Gordonsbaai, wys hoe sy nuwe toepassing, genaamd SayWhere, werk. Foto: Rick Marais


’n Helderberger wie se landskapfoto’s gereeld in DistriksPos & Helderberg Gazette verskyn, het onlangs ’n app vrygestel wat dit makliker gaan maak vir toeriste en plaaslike inwoners om restaurante, sakeondernemings, gastehuise en hotelle op te soek.

Sam Fourie (57), ’n inwoner van Gordonsbaai, het jare gelede verlief geraak op die internet en nadat hy lank as ’n webtuisteskepper asook ’n self-geleerde programmeerder gewerk het, het hy een van sy groot drome bewaarheid en die SayWhere Mobile App (toepassing) bekendgestel.

“Sogenaamde ‘web directories’ was jare gelede groot op die internet. Tans bestaan hordes van dié ‘directories’ in die mark, maar ’n mens moet betaal om daarvan gebruik te maak en nie almal het geld om vir sulke inskrywings te betaal nie. Dis waar SayWhere inkom, want dis heeltemal gratis om te gebruik,” vertel Fourie.

Die toepassing wat vir Android-fone gemaak is, is volgens Fourie maklik om te gebruik.

“Ek wil nog afdelings by die app voeg, maar vir nou het dit restaurante, blyplekke, kuns, nuus en ‘notices’ op, maar ek sou die toepassing nie sonder die hulp van AI kon bou nie,” bieg hy.

Fourie het sy toepassing met die hulp van Google Bard AI stukkie vir stukkie aanmekaar gesit en sy eie programmeer-vaardighede het baie gehelp, maar hy is eerlik en sê “kunsmatige intelligensie” maak alles makliker.

“Die toepassing gebruik geen interaksie tussen gebruikers nie. Dis purely for consuming en ’n mens hoef nie te registreer of te betaal om dit te gebruik nie. Dis soos die Yellow Pages, maar met prentjies en meer inligting by.”

Fourie het in Alberton in Gauteng grootgeword, in die 1980’s op rekenaars versot geraak en sy eerste rekenaar, ’n Sinclair ZX81 met ’n volle 1 MG geheue, in 1981 gekoop.

“Van daar af het ek in die bedryf gewerk. Ek was vir ’n kort rukkie ’n verkeersbeampte, maar is afgedank want ek het te min boetes vir vroue uitgeskryf!” skerts hy.

V SayWhere is vir Android-fone op Google Play Store beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article