Ná 30 jaar in die bedryf en met amper 20 000 klante op rekord tree ’n oogkundige van die Strand af met die hoop om vir haar medemens aan te hou gee.
Marika de Villiers (65), die bekende oogkundige van Strand, het verlede Woensdag (30 November) op haar laaste dag ’n paar klante ontvang voordat haar kollegas vir haar ’n afskeidspartytjie gehou en sy vir Strand-oogsorg vaarwel geroep het.
Marika, of Rika, soos almal haar noem, is in Oudtshoorn gebore en haar onderneming was op 30 November presies 30 jaar gelede een van die eerstes in die destydse nuwe Charles Morkel- mediese sentrum.
“Ons was op die regte tyd op die regte plek. Die mediese sentrum was iets wat die Strand toe erg nodig gehad het,” onthou Marika.
Dr. Danie Morkel en dr. Frans Brink was twee van die hoofdokters by die sentrum, wat ook ’n apteek ingesluit het, en Strand-oogsorg was toe op ’n klein perseel in die sentrum.
“Namate die jare aangestap het, het mense oud geword en begin aftree. Ek is nou die laaste een hier. Ek het die praktyk uitgebrei.”
Intussen het sy vier praktyke (een in Somerset-Wes, Heldervue en Gordonsbaai) insluitend die een in Strand.
“Ek moes destyds my dogter, wat toe 13 was, vir swemlesse op en af Kaap toe neem. Ek was altyd besig. Ek het nooit afgevat nie en ek was nooit siek nie.”
Sy het baie oor gee geleer by haar ouers, wat sy as mense wat hul tyd vooruit was, beskryf.
“My ouers het my geleer jy moet meer gee as wat jy ontvang – gee, gee, gee.”
Dis hoe sy haar gemeenskap deur die jare gedien het.
“Ons het met alle soort mense gewerk. Die is primêre gesondheidsorg, en in ’n land soos SA bestaan primêre gesondheidsorg nie. So, dis belangrik, want wie moet dit doen?”
Sy het mettertyd bekwame personeel aangestel, van wie sommige al langer as 20 jaar saam met haar gewerk het.
“My span is ongelooflik: Heleen Lombaard, Edith Nel en Natasha Januarie – hulle was die gom. Hulle was wonderlik. As ek saam met my dogter oorsee moes gaan as sy daar moes gaan swem, moes ’n locum kom instaan, maar ek was nie bekommerd nie, want my span sou seker maak dat alles seepglad verloop.”
Sy het vir 30 jaar ses dae per week gewerk en bieg sy het ontsettend hard gewerk.
“Ons was baie geseënd. Ek het besluit om af te tree weens my ouderdom, die pandemie en die feit dat my kinders in die buiteland is. Ek voel vandag emosioneel, want toe ek hier in die Strand op pad kantoor toe ry, was is dit die perfekte dag om af te tree – so op my laaste dag.”
Sy sê sy gaan nou nie niks doen nie – sy gaan klasgee in fisika en wiskunde vakke.
“Ek sal ook gemeenskapsdiens doen en nog terugploeg. As jy eendag oud is, gaan mense nie vra hoeveel geld jy het nie. Dis oor wat jy vir hulle gedoen het en hoe jy hulle kon help wat saakmaak.”
Die praktyk het so gegroei dat hulle al ophou tel het hoeveel pasiënte hulle op rekord het.
“Ek wil my broer, Louis Duvenage van die firma Duvenage en De Villiers in Wellington, bedank. Hy het my met al die regte besluite gehelp. Hy het my ook gehelp om die mense te kry wat nou Strand-oogsorg gaan oorneem. Die onderneming gaan presies net so aan. Die span is steeds hier. Alles gaan dieselfde wees – net ek gaan nie meer hier wees nie.”
Rika gaan nou haar lewe leef in die woorde van die ou Amerikaanse voetbalspeler Lou Holz: “Doen die regte ding”. Sy kan nou natuurlik ook meer tyd saam met haar kinders deurbring en sy gaan ook meer tyd hê om deur die wêreld te reis en plekke te sien waar sy nog nooit was nie.
“Ek wil mense maan om nie alles so ernstig op te neem nie. ‘Don’t sweat the small stuff’ en onthou om te gee,” voeg Rika by.



